Mense wat oudpres. Nelson Mandela besoek het, het gesê hy is aan 'n asemhalingstoestel gekoppel en het 'n pyp in sy keel.

Hulle het verder gesê Mandela, wat in die Harthospitaal in Pretoria is, is by sy volle bewussyn en reageer wanneer daar met hom gepraat word.

Makaziwe Mandela het by die hospitaal opgedaag, waar haar pa steeds in 'n kritieke toestand is, berig Sapa.

Sy het Maandag alleen by die hospitaal opgedaag en geen ander familie is gedurende dag die by die hospitaal gesien nie.

Bantu Holomisa, UDM-leier, het 'n rukkie later by die hospitaal opgedaag.

Die Nelson Mandela-­sentrum van Herinnering het vroeër briewe en boodskappe van beterskap wat die afgelope paar weke buite 'n muur by die hospitaal neergesit is, gaan haal.

"Ons neem die briewe en boodskappe van ondersteuning na die [Mandela]-familie en indien daar kontakbesonderhede is, sal die familie reageer," het David Sithole, 'n beampte van die sentrum, gesê.

Hy het gesê die familie is dankbaar vir diegene wat boodskappe vir Mandela gestuur het.

Die 94-jarige voormalige staatshoof, wat Maandag sy 31ste dag in die hospitaal deurgebring het, word vir 'n herhalende longinfeksie behandel.

- Bron: Nuus24