Pres. Jacob Zuma het die verbronsde standbeeld vandag by die Uniegebou onthul, ’n dag nadat die oudpresident op Qunu ter ruste gelê is.

“Ons is bly dat ons hier is. Julle sal sien dat in al die standbeelde wat al van Madiba gemaak is, hou hy sy vuis omhoog of steek dit soms uit. Dit spruit uit die slagspreuk van die ANC,” het Zuma gesê. “Dié een verskil van baie ander. Hy steek sy hande uit. Hy omhels die hele nasie.”

Die standbeeld van R8 miljoen is die handewerk van die Suid-Afrikaanse beeldhouers André Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren. Dit staan naby die Uniegebou se tuin en kyk oor Arcadia uit.

Vandag, Versoeningsdag, is ook die herdenking van die 100ste bestaansjaar van die Uniegebou. Duisende mense het ’n reuse markiestent volgepak wat vir die openbare vakansiedag op die grasperk opgeslaan is. Zuma sou die hooftoespraak lewer.

Die onthullingsplegtigheid is effens vertraag, want die hooggeplaastes het gewag op lede van Mandela se familie wat uit Qunu in die Oos-Kaap gereis het. Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, het saam met twee familielede daar aangekom.

Zuma het kort daarna saam met sy vrou Thobeka Madiba Zuma opgedaag. Hooggeplaastes, onder wie oudpres. Thabo Mbeki, die minister van kuns en kultuur, Paul Mashatile, adjunk-pres. Kgalema Motlanthe en Dali Tambo, die hoof van Koketso Growth, wat die standbeeld gemaak het, was teenwoordig.

Mangosuthu Buthelezi, die leier van die Inkatha-Vryheids¬party, en Wilmot James, die federale voorsitter van die Demokratiese Alliansie, het ook die geleentheid bygewoon.

Nog tien Mandela-standbeelde:

  1. Howick, Kwa-Zulu Natal – Die Mandela-gevangenemingsmonument is op die plek gebou waar Mandela op 5 Augustus 1962 in hegtenis geneem is.
  2. Nelson Mandela-plein, Sandton, Johannesburg – Die bronsbeeld wat in Maart 2003 onthul is, staan 6 m hoog en weeg 2,5 t.
  3. Korrektiewe Sentrum Groot-Drakenstein, Paarl – ’n Bronsbeeld van Mandela staan net buite die gevangenis wat voorheen as die Victor Verster-tronk bekendgestaan het. Mandela is op 11 Februarie 1990 uit dié gevangenis vrygelaat.
  4. Nelson Mandela-standbeeld, Suid-Afrikaanse ambassade in Washington, Amerika – ’n Replika van die standbeeld buite die Groot-Drakenstein-gevangenis is in September vanjaar buite die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington opgerig.
  5. Naval Hill, Bloemfontein – Die standbeeld van 6, 5 m van Nelson Mandela is in Desember verlede jaar onthul.
  6. & Nelson Mandela-akademiese hospitaal, Mthatha, Oos-Kaap – ’n Standbeeld van Mandela en ’n kind is buite die hospitaal opgerig.
  7. Parlementsplein, Londen, Brittanje – Die bronsbeeld van Mandela is op 29 Augustus 2009 onthul.
  8. Donkin Reserve, Port Elizabeth – Die Stemtou-standbeeld bestaan uit ’n Mandela-figuur en ’n 38 m lange metaalbeeld van Suid-Afrikaners wat toustaan.
  9. Den Haag – Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het die Nelson Mandela-standbeeld op 25 September 2012 onthul.
  10. Nobelplein, V&A Waterfront, Kaapstad – ’n Standbeeld van Mandela staan langs dié van Nkosi Albert Luthuli, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en oudpres. F.W. de Klerk.

-Sapa en Petro-Anne Vlok

BRONNE: sa-venues.com, sawip.org, nobelsquare.com, timeslive.co.za, mg.co.za, news24.com