Volgens Beeld het Makaziwe Mandela, Madiba se oudste dogter, gister nog nie geweet die inhoud van haar pa se testament gaan vandag bekend gemaak word nie.

Dit is reeds etlike maande bekend dat bittere twiste in die Mandela-familie heers oor die testament en oor wie die familiehoof moet wees.

Daludumo Mtirara, woordvoerder van die koninklike Temboe-familie, waartoe die Mandelas behoort, het begin vanjaar ’n beroep op hulle gedoen om kalm te bly terwyl Nelson Mandela se boedel gefinaliseer word.

Madiba se kinders het Graça Machel, sy weduwee, glo kort ná sy dood in Desember verlede jaar aangesê om die huis in Houghton te verlaat wanneer die routyd verby is.

Mandla Mandela, ’n kleinseun van Madiba, is glo onder meer uit sy huis in die Qunu-kompleks gesluit nadat sy tante Makaziwe die slotte van die huis laat vervang het. Dit is gedoen terwyl hy by sy oupa se oorskot in Pretoria gewaak het.

Dit sal dus vandag bekend word wat die erfporsie van Winnie Madikizela-Mandela, sy voormalige vrou, en dié van Machel is.