00004491

Woensdag 11 Desember

Madiba se lyk sal van Woensdag tot Vrydag in staatsie lê in die Uniegebou in Pretoria. Toegang kan slegs gekry word deur akkreditasie. ’n Bus waarop geakkrediteerdes klim, sal toegang tot die gebou beheer. Kameras word nie toegelaat nie.

In Kaapstad sal ’n gedenkdiens in die Kaapstad-stadion gehou word wat om vieruur die middag begin. Plaaslike sowel as internasionale kunstenaars sal tydens die gedenkdiens optree. Al die gratis kaartjies vir die geleentheid is reeds uitgedeel.

Donderdag 12 Desember

Die Universiteit van die Witwatersrand hou halfvyf ’n gedenkdiens in Wits se Groot Saal. Gassprekers soos George Bizos, Ahmed Katrada en Parks Tau sal die skare toespreek.

’n Aand van Nagedagtenis sal seweuur die aand op Atlantis naby Kaapstad gehou word.

Vrydag 13 Desember

KwaZulu-Natal se premier, Senzo Mchunu, hou negeuur die oggend ’n provinsiale gedenkdiens in die Moses Mabhida-stadion in Durban.

Saterdag 14 Desember

’n Nagwaak word van vyfuur die middag op die Kaapse Parade gehou.

Sondag 15 Desember

Die staatsbegrafnis by Madiba se huis en laaste rusplek op Qunu, Oos-Kaap, sal regstreeks uitgesaai word op die SABC-kanale. Die publiek sal ook op die Kaapse Parade en in die Moses Mabhida-stadion in Durban onder meer die begrafnis kan kyk.