Sy weduwee, Graça Machel, het haar Vrydag sterk uitgespreek oor die boek, Mandela’s Last Years, deur sy dokter, Vejay Ramlakan en het die boek ten sterkste veroordeel.

Die uitgewer van die boek, Penguin Random House, het Maandag bekend gemaak dat die boek onmiddellik uit die vrye handel onttrek gaan word. Geen verdere uitgawes sal beskikbaar gestel word nie.

Die uitgewer het aangedui die stap is uit respek vir Madiba geneem.

Ramlakan is die land se voormalige geneesheer-generaal en was tot Madiba se dood in 2013 die hoof van sy mediese span. Hy het aan die uitgewer te kenne gegee die boek is deur Madiba se familie versoek.

"Die boek was veronderstel om Nelson Mandela se dapperheid en krag tot aan die einde van sy lewe te weerspieël," het die uitgewer in 'n mediavrystelling gesê.

In die lig van verklarings wat deur familielede aan die uitgewer voorgelê is, is die besluit geneem om die boek te onttrek.