Oudpres. Nelson Mandela is steeds in ’n kritieke maar stabiele toestand in die hospitaal en toon steeds tekens van verbetering, het die presidensie Dinsdag gesê.

“Pres. Jacob Zuma vra die publiek moet aanhou bid vir Madiba. Hy bedank diegene wat gemeenskapswerk doen om Madiba se goeie werk voort te sit,” het Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, gesê.

Mandela is sedert 8 Junie in die Mediclinic Harthospitaal, toe hy vir ’n longinfeksie opgeneem is. Hy het sy 95ste verjaardag op 18 Julie daar deurgebring.

Dit was Dinsdag stil buite die hospitaal op Mandela se 53ste dag daar. ’n Hand vol joernaliste het by die hospitaal se ingang gestaan.

In sy verklaring het Zuma die sakegemeenskap gevra om die Nelson Mandela Kinderhospitaal-projek te steun. Die doel daarvan is om ter ere van Mandela nog ’n hospitaal te bou om aan kinders in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap dienste te bied.

“Madiba is lief vir kinders en wil die beste vir hulle hê. Hy wil hê ons moet sorg dat hulle ’n beter toekoms het,” het Zuma gesê.

Die departement van gesondheid, burgerlike samelewing en akademiese sektor werk saam aan die projek.

“Die hospitaal sal een van die inspirerendste nalatenskappe van dié merkwaardige staatsman en leier van ons mense wees. Ons nooi alle sektore nederig uit om die projek aktief te ondersteun,” het Zuma gesê.

“Ons noop ook die algemene publiek om hul gewig agter die projek in te gooi sodat dit ’n werklikheid kan word,” het hy bygevoeg.

– Sapa 

sapalogo