Die oorskot is vroeër vandeesmaand gevind waar sy langs ’n snelweg op die platteland in die Suid-Australiese wildernis weggegooi is.

Volgens die polisie in Suid-Australië is die kind vermoedelik die een of ander tyd in 2007 op ’n ander plek vermoor. Haar oorskot, sowel as klere en ’n dun kombers, is in ’n tas langs ’n snelweg in Wynarka, naby Adelaide, gevind.

Die ontdekking het aanleiding gegee tot bespiegeling dat dit dié van klein Madeleine kan wees, want sy het blonde hare gehad en was drie jaar oud toe sy op 3 Mei 2007 uit haar Britse ouers se vakansiewoonstel in die Algarve-gebied in Portugal verdwyn het .

’n Polisiewoordvoerder het gesê: “Ons is bewus van die gerugte dat die oorskot van ’n kind in Suid-Australië gevind is en het met die owerhede in Australië in verbinding getree.”

Die owerhede in Australië kon tot dusver nie die meisie identifiseer nie.

Grant Stevens, kommissaris van polisie in Australië, het voor ’n parlementêre komitee gesê: “Daar is in hierdie stadium absoluut nog geen bewys dat die kind Madeleine McCann is nie. Om nou bewerings daaroor te maak, sal blote bespiegeling wees met die doel om aandag te trek.

“Ons moet alle moontlikhede in ag neem tot ons die kind se identiteit kan bewys.”

Bronne: BBC, The Guardian