Dit volg nadat die polisie Maandagaand tydens ’n spesiale aflewering van die Britse program Crimewatch twee digitale voorstellings van die verdagte gewys het. Die voorstellings is gekry van ooggetuies wat ’n man naby die woonstel opgemerk het in die tyd toe Madeleine verdwyn het.

Die polisie het die inligting verkry deur ’n nuwe tydlyn saam te stel deur die oorspronklike verdagte uit te skakel wat om 21:15 deur ’n vriendin van die McCanns, Jane Tanner,  opgemerk is.

Die vervaardigers van die program sê meer as 1 000 mense het hulle per telefoon en e-pos gekontak en verskeie mense het dieselfde naam aan hulle verskaf. Joe Mather, die redakteur van Crimewatch, sê dit is veral betekenisvol wanneer mense met dieselfde naam inbel.

Madeleine het op driejarige ouderdom uit haar ouers se vakansiewoonstel in die Portugese kusdorpie  Praia de Luz verdwyn.

Dieselfde program is vroeër die week ook in Nederland en Duitsland uitgesaai.

Die polisie is besig om die leidrade op te volg en ondersoek ook die reeks inbrake in Praia de Luz wat plaasgevind het in die maande voor die McCanns in Portugal aangekom het.

Die McCanns het in die program ook oor die pyn gepraat wat hulle steeds ervaar.

Bronne: Mirror.co.uk, Sapa, Die Burger