Dis ’n saak wat nou nog voortduur, ’n storie wat onopgelos bly, die dogtertjie wat ná ses jaar vandag nog vermis word.

En nou word die saak van die vermiste Madeleine McCann weer ondersoek nadat Britse speurders 20 moontlike verdagtes uitgeken het wat dalk belangrike inligting oor Madeleine se verdwyning het.

Madeleine het in 2007 enkele dae voor haar vierde verjaardag uit haar gesin se vakansiewoonstel verdwyn in Algarve, Portugal. Die soektog na haar duur voort.

Ondersoekbeamptes het ’n lys verdagtes saamgestel wat hulle in verband met Maddie se verdwyning wil ondervra. Die lys sluit talle voorheen bekende karakters in, soos ’n groep vryskut-skoonmakers wie se vervoerwa in dieselfde gebied gewaar is as waar Madeleine verdwyn het en ’n geheimsinnige middeljarige paartjie wat vermoedelik ’n woonstel naby die McCann-gesin in dieselfde tydperk gehuur het.

Beamptes van Scotland Yard het glo gevra die Portugese polisie moet die saak heropen en die Britse skoonmakers en geheimsinnige paartjie opspoor. Weens regsbepalings mag slegs die Portugese polisie mense in hegtenis neem. Dit is van die uiterste belang dat hulle die saak heropen sodat hulle enige nuwe bewyse kan opvolg wat die speurders opspoor.

“Daar is meer as ’n hand vol verdagtes wat verder ondersoek kan word, al is dit net om hulle uit te skakel,” het die hoofsuperintendent, sp. Hamish Campbell, gesê. “Die belangrikste is om die saak te ondersoek en ons doel ons deel om die Portuguese polisie te ondersteun.”

Die saak is nou weens die nuwe ondersoek weer in die kollig en dit gee haar gesin opnuut hoop in hul voortgesette soektog na hul vermiste dogter wat nou nege jaar oud sal wees.

Bronne: http://news.sky.com; http://www.thedailybeast.com

Faiza Mallick