Amerikaanse hoërskoolmeisies skep die videospeletjieTampon Run om die stigma aan menstruasie te beëindig

Twee Amerikaanse hoërskoolleerders, Sophie Houser (17) en Andrea Gonzales (16), het onlangs ’n baanbreker- videospeletjie geskep om die menstruasietaboe te oorbrug waarmee vroue en veral jong meisies te kampe kry.

Die twee tienermeisies van New York het dit op hulself geneem om die taboe rakende menstruasie aan te pak deur tampons as wapens te gebruik in ’n lighartige en redelik verslawende videospeletjie. Sophie en Andrea het mekaar tydens ’n somerprogram van Girls Who Code, ’n tegniese organisasie vir meisies wat dol is oor rekenaars. Hulle het hul koderingsvaardighede gebruik om Tampon Run te skep, ’n rekenaarspeletjie in die styl van die 80’s waarin jy jou vyande met tampons skiet.

“Die taboe rakende maanstonde en menstruasie leer vroue dat ’n normale en natuurlike liggaamsfunksie verleentheidwekkend en kru is,” lui die inleiding tot die speltjie. “Tampon Run is ’n manier om die taboe op ’n toeganklike en prettige manier aan te roer”.

In die speletjie het spelers ’n rugsak vol tampons. Wanneer vyande nader kom, gooi die spelers tampons in hul gesigte pleks daarvan om hulle met vuurwapens te skiet. In die speletjie se inleiding staan daar dat aangesien ons geweld en gewere in speletjies gewoon gemaakhet, behoort ons ook tampons en maandstonde gewoon te kan maak.

Die speletjie begin natuurlik met ’n groot rooi agtergrond en ’n rooi vloedgolf.  “Die meeste vroue menstrueer ’n groot deel van hul lewe. Dit is heeltemal normaal,” staan daar op ’n banier op die skerm. “Tog voel die meeste mense, vroue en mans, ongemaklik daaroor om oor enigiets te praat wat met menstruasie te doen het.”

Nie net is die speletjie ’n slim manier om menstruasie te belig nie, maar die meisies – wat die Twitter-naam @TamponRunner deel – druk ook hul sienswyse oor geweld daarmee uit: “Al is die konsep van die videospeletjie dalk vreemd, is dit vreemder dat ons samelewing vuurwapens en geweld deur videospeletjies aanvaar en gewoon gemaak het, en tog vind ons steeds tampons en menstruasie onuitspreeklik,” sê hulle in die videospeletjie se inleiding.

Hopelik sal menstruasie eendag net so gewoon beskou word, indien nie meer nie, as wat gewere en geweld in ons samelewing geword het. Gewoon genoeg om in ’n videospeltjie te plaas sonder om twee keer daaroor te dink. Tot dusver is Tampon Run, wat Sophie en Andrea se laaste projek vir Girls Who Code was, al meer as 400 keer op Facebook gedeel en 332 keer op Twitter.

Dit berus dikwels by die jongste lede van die samelewing om ’n verandering te maak: die Tampon Run-videospeletjie is inderdaad ’n wonderlike hulpmiddel om gesprekke oor die stigma aan menstruasie aan die gang te sit en die eerste stap om maandstonde gewoon te maak.