Maar ons moderne, gejaagde leefstyl maak dit dikwels baie moeilik. Ons het by kenners raad en wenke vir SuperMa’s gevra.

SMEE ’N BAND:

Dit is noodsaaklik dat gesinne tyd saam deurbring, sê Hameeda Bassa-Suleman, ’n kliniese sielkundige van Durban.

“Kinders leer hoe om sosiaal te verkeer deur hul ouers dop te hou. Met jou goeie gedrag en waardes kan jy ’n voorbeeld stel waaruit hulle kan leer.

“Spesiale gesinstyd bou ook hul gevoel van eiewaarde. Kinders voel gewaardeer en spesiaal as ouers tyd in hul besige dae inruim wanneer die kinders oor hul gevoelens en vrese kan praat.”

Hegte bande bevorder onderlinge vertroue in die gesin. “Dis veral belangrik in moeilike tye, want dan sal kinders eerder met hul ouers as hul vriende praat – mits hulle glo hul ouers sal na hulle luister en hul gevoelens ernstig opneem,” verduidelik Hameeda.

Hoe hegter die band, hoe beter is die kommunikasie in die gesin.

“Ouers leer om te luister na wat hul kinders probeer sê en kinders leer om hul ouers se raad en wysheid te waardeer.”

MAAK TYD:

Daar is ongelukkig geen kitsmanier om ’n hegte band met jou kind te smee nie, maar as jy gereeld tyd inruim om jou volle aandag aan jou kind te wy, sal dit die band tussen julle versterk, sê Lomé Koekemoer, ’n sielkundige van Randburg.

Betrek jou kind by jou alledaagse bedrywighede, is haar raad.

“Ons is dikwels geneig om kinders daarvan uit te sluit. Met ’n bietjie ekstra moeite kan aktiwiteite soos inkopies doen, oefen, kos maak en stokperdjies beoefen ook pret wees.”

Kenners stem saam dat ouers ’n spesifieke tydgleuf as gesinstyd moet inruim. “Maak gereeld ’n dag lange afspraak met jou kind. Dit moenie ’n kwessie wees van ‘as ek tyd het’ nie; dit moet jou prioriteit wees,” sê Hameeda.

Werkende SuperMa’s moet elke aand minstens 15 minute lank met hul kinders oor hul dag gesels. “Sê vir hulle jy het na hulle verlang sodat hulle waardevol voel en voel asof hulle in jou wêreld hoort.”

Ma’s hoef hulle nie daaroor te verknies as hulle nie elke dag ure lank saam met hul kinders kan deurbring nie.

“Onthou: Kinders heg waarde aan konsekwentheid. Hoeveel tyd julle saam deurbring, maak nie so erg saak nie, maar wel die gehalte daarvan,” verduidelik Hameeda.

“Kinders sal meer waarde heg aan 15 minute van jou onverdeelde aandag as ’n hele middag waarin hulle jou aandag probeer kry terwyl jy telefoonoproepe maak of ’n groot aandete berei.”

TEGNOLOGIE:

Tegnologie is ’n onmisbare deel van ons lewe en kan nie weggewens word nie. Maar stel ’n geenskerm-tydgleuf in wanneer almal in die gesin – ja, ook die ouers – die televisie, selfone, skootrekenaars en tablette moet uitlos.

“Dit sal gesinslede motiveer om werklike interaksie van aangesig tot aangesig met mekaar te hê. Gebruik hierdie tyd om te kommunikeer en saam te speel, eerder as dat julle opgeslurp word deur sosiale media en deur al die ander afleidings wat tegnologie bied,” sê Hameeda.

Dit is ouers se verantwoordelikheid om hul kinders ook nietegnologiese pret te leer geniet, voeg Lomé by.

Beproef bordspeletjies, aktiwiteite in die buitelug soos fietsry, bergklim of kampeer en verbeeldingspeletjies soos om saam ’n fort te bou.

WAT KAN ONS SAAM DOEN?

Laat jou kinders kies wat hulle in jul tyd saam wil doen, sê Lomé, maar vermy TV kyk.

“Gehaltetyd lyk anders vir elke kind en verskil ook op grond van hul ouderdom.”

Hier is haar voorstelle vir kinders van verskillende ouderdomme:

1-3 jaar: Aktiwiteite wat hul nuuskierigheid bevredig en ook hul behoefte om ontdekkings te maak.

3-5 jaar: Verbeeldingspel-aktiwiteite.

4-8 jaar: Aktiwiteite wat hulle uitdaag om ’n nuwe vaardigheid aan te leer of te versterk, soos sokker, dans of swem.

Ampertieners: Sosiale aktiwiteite wat hulle toelaat om hul sosiale vaardighede te ontwikkel, soos om ’n melkskommel saam met ma te gaan drink.

-        Suzaan Hauman