Bessiegenot

Hierdie drankie  bevat hope kalsium, magnesium, sink en vitamien A en C wat wonderlik is vir kinders en ma’s!

  • 100 g aarbeie, gewas en stingels verwyder
  • 75 g rooi aalbessies of frambose, gewas
  • ½ lemoen, geskil
  • 125 ml koue water
  • 2 ml heuning (opsioneel)
  • gebreekte ys

Versap die vrugte en voeg die water by. Giet dit in ’n glas, roer die heuning in indien gebruik en voeg gebreekte y by. Versier met ekstra rooi aalbessies of frambose.

Hierdie resep is oorspronklik ingestuur deur mev. E. du Preez van Saldanha.

Sag en strelend

Dié skommel bevat baie kalsium wat noodsaaklik is vir die herstel van beenweefsel en liggaamselle, asook yster (goed vir jou bloed) en sink wat noodsaaklik is vir die herstel van liggaamsweefsel.

  • 40 g vars of gedroogde bosbessies
  • sap van ½ suurlemoen
  • 1 groot piesang
  • 15 ml sesamsaad
  • 30 ml Griekse jogurt
  • 200 ml melk
  • gebreekte ys

As gedroogde bessies gebruik word, week dit eers 20 minute in warm water. Verwerk dan die bessies en suurlemoensap in ’n voedselverwerker of versapper. Voeg die piesang en sesamsaad by en verwerk tot glad. Voeg die jogurt en die melk by en verwerk tot glad en skuimerig. Giet dit oor die gebreekte ys in glase en versier met ekstra bosbessies.

’n Heerlik sap om die dag mee te begin

Dit is vol vitamien C en die antioksidant betakaroteen. Die lemoene verskaf kalsium en magnesium, wat noodsaaklik is vir die herstel van liggaamselle.

  • 2 lemoene
  • 1 geelwortel, gewas
  • ysblokkies

Sny ’n skyfie van die een lemoen en hou eenkant vir versiering. Skil die lemoene en versap dit saam met die geelwortel in ’n versapper of voedselverwerker. Giet dit oor die ysblokkies en versier met die lemoenskyfie.

  • Checkers versappers: Besoek jou naaste Checkers en skaf sommer vandag nog die Philips versapper vir R340.99 of die Platinum versapper vir R149.99 aan.