Dit is laat op ’n Vrydagaand en jy is op pad huis toe ná ’n ete in jou gunstelingrestaurant. Nes jy by ’n verkeerslig wegtrek, sien jy die blou ligte van ’n polisiemotor wat aandui jy moet aftrek. Jou palms begin sweet en jou hartklop versnel; hoe moet jy nou maak op dié verlate pad?

Die Padverkeersbestuurskoöperasie en die Justice Project SA het onlangs nuwe protokol vrygestel wat alle bestuurders moet nakom wanneer hulle deur polisie- of verkeersbeamptes afgetrek word, veral saans.

Wanneer ’n bloulig jou aftrek:

  1. Verlaag jou spoed tot 40km/h en skakel jou waarskuwingsligte aan.
  2. Dui met jou regterhand buite die motor se venster aan dat die voertuig jou moet agtervolg.
  3. Ry na die naaste polisiekantoor of motorhawe, iewers wat goed belig en veilig is.
  4. Skakel 10111 en kry die registrasienommer van die voertuig wat jou agtervolg.
  5. Lig die operateur in dat jy deur ’n polisiebeampte agtervolg word en dat jy by ’n veilige plek gaan stilhou.
  6. Wanneer jy by die polisiekantoor of motorhawe aankom, bly in jou motor tot ’n beampte jou ander instruksies gee.

Bly altyd kalm; dit sal die polisie- of verkeersbeampte gerusstel dat jy nie voortvlugtig is nie, maar sal saamwerk.

Dié maatreëls geld nie vir padversperrings nie. Dan moet jy altyd op die plek stilhou, aangesien daar baie mense en polisiebeamptes is om na jou veiligheid om te sien.