Hoe gemaak as jou kleuter begin slaan? Twee kenners gee raad vir die “terrible twos”.

Het jou kind jou dalk begin slaan of byt? ’n Ma skryf vir ons haar 22 maande oue seuntjie het haar en sy pa begin slaan, en sy is raadop.

“Ek het al met hom gepraat en gesê dis lelik en stout wanneer hy sy hande vir ons lig en ons slaan; ek het hom al aan die onderkant van sy handjies en sy boude geraps, maar niks werk nie. Hoe meer ek hom slaan, hoe meer slaan hy my terug. Ek wil nie hê hy moet grootword met die idee dat dit reg is om ander seer te maak nie. Help asseblief!”

Melanie Prinsloo is ’n kliniese sielkundige van Pretoria en sê dit is tipies vir kinders van dié ouderdom. “Baie ouers verwys na hierdie stadium as die ‘terrible twos’ en word meestal gekenmerk deur die kind wat skielik die woord nee ontdek het, hardkoppig is en vloermoere gooi. Dis op min of meer twee jaar dat ’n kind gewoonlik besef hy het ’n wil van sy eie; dit is dus normaal dat hy dan verskeie vorme van gedrag toets om vas te stel waar ouers die grense trek.”

Marisa van Niekerk, ’n opvoedkundige sielkundige in Pretoria, sê ouers moet besef die gedrag is ook nie noodwendig bedoel om seer te maak nie.

“Dit is gewoonlik om iets in die hande te kry, soos ’n speelding of om ’n sekere gebied te annekseer. Gewoonlik is kinders minder aggressief van ses af. Hulle is dan minder op hulself gefokus en kan beter kommunikeer,” sê Marisa.

Melanie sê dit is baie belangrik dat ouers die situasie reg hanteer en leiding neem.

“As die ouers die kind se gedrag as persoonlik ervaar, sal ’n magstryd ontstaan wat net die gedrag versterk. Onthou, die kind se gedrag vorm deel van ’n ontwikkelingsfase. Om die kind terug te slaan is iets wat die situasie kan vererger, want dit stuur teenstrydige boodskappe aan die kind: Hy word geleer om nie te slaan nie, maar tog slaan die ouer die kind.”

Maak so

Melanie stel twee goed voor: Probeer eers die gedrag ignoreer. As dit nie werk nie, maak oogkontak, sê vir die kind hoekom hy verkeerd optree, en sê ook wat die gevolge daarvan sal wees. Sy stel voor ’n gepaste manier van dissipline in hierdie situasie is die gebruik van die “stoutstoeltjie”.  Die kind kan een minuut vir elke lewensjaar op die stoeltjie sit.

“As jy die gedrag eers ignoreer, gaan bloot aan waarmee jy besig was. Bly rustig – as jy kwaad is, fokus op jou asemhaling of bring ’n minuut of twee in ’n ander vertrek deur.”

As dit nie werk nie, probeer die volgende: “Gaan af op jou hurke en maak oogkontak met die kind. Jy kan dalk ook die kind se hande saggies vashou. Sê iets soos: Hande is nie om mee te slaan nie. Dit is om dinge op te tel, handjies te klap en vir mekaar te waai. As jy weer slaan, gaan jy twee minute op die stoutstoeltjie sit, maar as jy nou ophou, kan ons iets anders doen.” Stel dan voor dat julle voortgaan waarmee julle besig was, of stel ’n alternatief voor om die kind se aandag af te trek, soos om met die hond te speel, blokkies te bou of TV te kyk. Onthou om sterk te staan oor die stoutstoeltjie as hy steeds nie luister nie.

Versterk positiewe gedrag

Marisa sê ’n belangrike deel van die kind se leerproses wat ook aggressie kan help uitskakel, is om positiewe gedrag te versterk. “As jou kind iets reg doen, gee ’n glimlag, ’n drukkie, woorde van waardering, ekstra aandag of ’n spesiale voorreg. Doen dit op ’n gereelde, konsekwente basis. Dit behoort hom geleidelik te ondersteun om te voel dat hy iets bereik het en in die proses goed oor homself voel.”

Hoe weet ek die aggressie is nie teken van ’n groter probleem nie?

“Hoewel aggressie in kleuters normaal is, kan party kinders vyandige aggressie (met die doel om iemand anders seer te maak) of openlike aggressie (wat direk en openlik op ’n teiken gemik is) toon,” sê Marisa.

Sy sê algemene oorsake van aggressie is gewelddadige fantasiespel, blootstelling aan aggressiewe volwassenes of geweld, reëls wat elke af en toe verander, ouers wie se reëls baie van mekaar verskil, uiteenlopende ouerskapstyle of aggressiewe maats. “In so ’n geval is dit belangrik om jou kind by ’n opvoedkundige sielkundige te kry en dalk gesinsterapie te oorweeg, waar albei ouers saamwerk om die oorsaak, sowel as die gedrag, te probeer oplos.”

- Dalena Theron

Ekstra bron: A child’s world: Infancy through adolescence: Papalia, Olds and Feldman.