Is jy lus vir ‘n heerlike seekosfees, maar jy wil nie ‘n aardige bedrag by ‘n restaurant spandeer of jou familie olierige kitskos voer nie? Probeer hierdie Huisgenoot-resep http://www.huisgenoot.com/ vir calamaribuise en verras jou familie.

  • Genoeg vir 4 mense
  • Bereiding: 15-20 minute
  • Gaarmaaktyd: 10-13 minute

Jy benodig:

  • 2 wiele fetakaas, gekrummel
  • 125 ml (½ k) roomkaas
  • 125 ml (½ k) gerasperde pecorinokaas
  • 4 pikantrissies, gekap
  • 2 jalapeño-rissies, gekap
  • 14 calamaribuise, skoongemaak
  • 1 suurlemoen, in skywe gesny
  • 80 ml (1/3 k) botter
  • 3-4 knoffelhuisies, gekap
  • sap en skil van 1 suurlemoen, met ’n repieskiller geskil
  • 2-3 takkies vars tiemie

Maak so:

  1. Vulsel: Meng al die bestanddele vir die vulsel. Maak seker die calamaribuise is goed skoongemaak – kyk of daar enige plastiekerigheid aan die binnekant is.
  2. Calamari: Skep die vulsel in ’n spuitbuis en spuit die calamaribuise goed vol. Steek die opening toe met peuselstokkies.
  3. Pak die suurlemoenskywe in die bak van ’n stomer. Plaas die calamaribuise bo-op. Stoom 8-10 minute tot die calamari gaar is en net van glaserig tot wit verkleur het.
  4. Smelt die botter in ’n groot pan. Voeg die knoffel, suurlemoensap en -skil en tiemie by en verhit tot die mengsel geurig is en die botter effens verbruin het.
  5. Voeg die calamari by en meng dit net vinnig deur die bottermengsel tot goed bedek.
  6. Sit voor saam met lekker groot stukke Franse brood en ekstra wiggies suurlemoen.
  7. Wenk: Skep dieselfde vulsel op groot bruinsampioene, in rooi soetrissiebakkies of maak ’n spleet in hoenderfilette en vul dit daarmee voor jy dit in die oond druk.

Klik hier  vir hierdie en ander heerlike Huisgenoot-resepte.