Daar word elke 45 minute ’n kind met outisme in Suid-Afrika gebore. In die VSA word outisme by 1 uit 50 kinders gediagnoseer. Hoewel daar nie Suid-Afrikaanse statistieke beskikbaar is nie, sê kenners die aantal kinders met outistiese-spektrumafwykings (OSA) het die afgelope paar jaar beslis toegeneem.

Wat is die oorsaak?

’n Onlangse studie deur navorsers van die Universiteit van Chicago het getoon babas wat in die baarmoeder aan uitermate besoedeling blootgestel word, se kans vir outisme 283% groter is as enige ander aangebore gebrek.

Dr. Louise Lindenberg, ’n algemene praktisyn van Kaapstad met ’n belangstelling in outisme, sê die algemeen aanvaarde standpunt is dat OSA ’n genetiese vatbaarheid is en dat omgewingsfaktore, soos besoedeling, ’n komplekse rol speel in die voorkoms van outisme.

“Ek dink nie ons gaan ’n eenvoudige antwoord kry wat outisme veroorsaak nie – dit is eerder ’n versameling faktore wat (tydens die kind se ontwikkeling) op die verkeerde tyd die verkeerde rol speel,” verduidelik sy.

“Elke kind met outisme is anders en hulle gesondheidsrisiko’s verskil.”

Wat van inentings?

Louise glo ook dat die bohaai oor inentings teen MMR (masels, pampoentjies en Duitse masels) ’n omstrede onderwerp is. Sy het al talle outistiese pasiënte behandel wat geen inentings gehad het nie.

“Inentings bevorder openbare gesondheid en ek sal nooit ’n ouer afraai om hul kind in te ent nie. Ouers kan meer selektief wees oor inentings: Neem jou kind se ontwikkeling en risiko’s in ag en stel miskien die inentings met ’n paar maande uit,” raai sy aan.

Het my kind outisme?

’n Mens kan al van ’n jong ouderdom spesifieke aspekte van jou kind se ontwikkeling dophou. “Een van die eerste tekens van ’n gesonde baba is dat hy effektief moet kan borsvoed, want dit dui op motoriese funksie,” verduidelik Louise.

Op twee maande moet ’n baba al interaktief wees en glimlag, en beweging dophou; op nege maande reageer babas gewoonlik op hul naam en herken mense.  Hulle speel op hierdie ouderdom graag “Waar’s hy? Daar’s hy!”

As jy vermoed jou kind het dalk outisme, wees op die uitkyk vir dié tekens:

  • Reageer nie op hul naam as die ouers, maar veral ’n vreemdeling, dit gebruik nie;
  • Antwoord nie sosiale vrae, soos “Wat is jou naam?” nie en glimlag nie in sosiale omstandighede nie;
  • Maak nie jou bewegings na of volg nie jou instruksies nie;
  • Lees nie lyftaal nie en stel nie belang in gemeenskaplike aktiwiteite nie;
  • Is nie opgewonde oor speletjies soos wegkruipertjie nie;
  • Kyk nie na jou om bevestiging te kry of deelname te bevestig nie?
  • Maak nie maklik oogkontak nie;
  • Is abnormaal sensitief vir sensoriese ervarings, byvoorbeeld geraas of aanraking;
  • Kry oënskynlik sonder rede skielike huil- of woedebuie;
  • Sukkel buitengewoon baie met toiletdissipline;
  • Toon herhalende of obsessiewe gedrag, soos deure oop- en toemaak of ligte aan- en afskakel;
  • Sukkel hulle met verandering in hul roetine of omgewing.

Diagnose

As jy vermoed jou kind het outisme, is dit belangrik om hulle te laat diagnoseer. Outisme kan net gediagnoseer word deur die kind se gedrag waar te neem. Die beste diagnose behels ’n deeglike ontwikkelingsgeskiedenis (wat die ouers waarneem) en ’n waarneming deur ’n opgeleide dokter of kliniekpersoneel.

Een persoon kan die waarneming doen, maar ’n span mense is nodig vir ’n akkurate diagnose, byvoorbeeld die kind se onderwysers, pediater en sielkundige.

Kry hier hulp

Hoewel outisme ’n ongeneeslike toestand is wat die kind lewenslank bybly, is daar wel hoop. Hoe vroeër hulle met terapie begin, hoe beter is die prognose. Meer as die helfte van kinders wat op tweejarige ouderdom met terapie begin, kan binne ’n paar jaar ’n hoofstroomskool bywoon.

-Shané Barnard

Ekstra bronne: Health24.com, uctautism.com, Sarie (April 2014)