Stephan Ekbergh, stigter van Travelstart, het nog dieselfde dag dat dié e-pos deur Travelstart uitgestuur is, aan almal wat al ’n bespreking by dié reisagentskap gedoen het, op Twitter verskoning gevra. “Ek vra innig verskoning vir die waansinnige, dom Gekkedag-grap wat in almal se inbokse beland het. Slegte smaak,” het Stephan getwiet.

Travelstart het kort ná eenuur op 1 April weer ’n e-pos uitgestuur waarin hulle sê dit is ’n grap.

By navraag het Stephan aan Huisgenoot gesê ná die e-pos het hulle talle oproepe en e-posse ontvang. Baie was van mense wat bang is hul inligting het iewers uitgelek.

Volgens Stephan is sy bemarkingspan “ ’n energieke klomp” en hulle glo daarin om dinge op ’n ander manier te doen. Hy sê self gereeld vir sy span om eerder vergifnis te vra as toestemming, maar dié een “was ’n major fail en daar is baie vergifnis wat gevra en gegee moet word”.

Die e-pos wat gestuur is, is ’n herinnering aan ’n bespreking wat die ontvanger gedoen het vir ’n toer van ses weke in Rome. Die vlug, van Iberia Airlines nogal, vertrek op 14 April van die O.R. Tambo-lughawe en land die volgende dag in Rome.

via GIPHY

“Tot my verbasing het baie mense gedink dis snaaks. Ek stem nie daarmee saam nie,” sê Stephan.

Twee mense wat nie gedink het dit is snaaks nie, is Rene en George Williams*. Toe George die e-pos kry, het hy Diners Card, by wie hy ’n kredietkaart het, gekontak omdat hulle al twee keer tevore slagoffers was van bedrog. Die vorige twee kere het bedrieërs vliegkaartjies met hul kredietkaart gekoop.

travelstart

“Dit was nie vir ons snaaks nie. Daar is soveel bedrog wat tans aan die gang is, dat ’n mens nie met so iets spot nie,” sê Rene.

Stephan sê hy stem saam met Rene.

“Ek was nog besig om ’n koppie tee te drink toe ek dieselfde e-pos ontvang. Ek het gedink iets het heeltemal bonkers gegaan op ons databasis. Dit is toe dat ek die kantoor kontak,” sê Stephan. “Al wat ek kan sê, is dat ek regtig jammer is. Dit was nooit snaaks nie.”

Iemand wat wel gedink het dit is snaaks, is Christiaan Boonzaier (31), ’n Suid-Afrikaner wat in Pole studeer. Hy was aanvanklik verward toe hy die e-pos ontvang, want hy het einde verlede maand ’n vlug bespreek van Berlyn na Brussel. Die reisplan op die e-pos het ook net soos die ware Jakob gelyk, al was daar nie ’n besprekingsnommer nie.

“Hoewel ek dit nie deur Travelstart bespreek het nie en hoewel die ‘vliegkaartjie’ in die e-pos van Johannesburg na Rome was, was my eerste gedagte dat ek êrens ’n afskuwelike fout in my bespreking gemaak het,” sê Christiaan. Toe hy die datum sien, het hy dadelik geweet dit is ’n grap. “Ek het gelag en was nie kwaad nie, maar ek het besef daar gaanmense wees wat beslis gaan dink dit is 'n werklike vliegkaartjie. “Ek het toe vir Travelstart getwiet dat ek saam met hulle lag oor die grap – dat hulle my uitgevang het – maar ook dat hulle waarskynlik nie gaan lag as iemand werklik (soos die “vliegkaartjie” sê) op 14 April ’n paar uur voor 18:30 by O.R. Tambo gaan opdaag en aanmeld vir die vlug nie.

“Selfs die lugdiens op die ‘vliegkaartjie’, Iberia Airlines, bestaan werklik en Travelstart verkoop vlugte op Iberia Airlines van Johannesburg na Rome. Dit is moeilik om ’n onderskeid tussen die feite en ’n grap te tref.”

Stephan sê hy hoop daar is nie iemand wat op 14 April by die O.R. Tambo-lughawe opdaag met die hoop om ’n vlug te kry Rome toe nie.

“Ek sal persoonlik vir hulle ’n R1 000-geskenkbewys, ’n boks sjokolade en ’n uitnodiging na my kantoor stuur om vir hulle jammer te sê,” sê Stephan.

via GIPHY

“Ons is lief vir al ons kliënte. Ons neem ons mandaat om die mense van Suid-Afrika te dien, baie ernstig op. Veiligheid is ons hoofsaak. Al ons data is beskerm tot op die hoogste peil en dit is hoekom ons daagliks meer as 5 000 sitvlakke in sitplekke sit.

“Ek wens ek kon hierdie ongedaan maak.”

Stephan sê enigiemand wat kwaad is dat hul inligting uitgelek het of wat bekommernisse het, kan hom persoonlik by Stephan@travelstart.com kontak.