Boonop is dit belangrik om nie mislei te word of ande rmense te mislei deur dié soort stories verder op sosiale media te deel nie.

Maar hoe gemaak?

Jy kan binnekort vir Facebook help om van liegnuus ontslae te raak.

Volgens ’n blog-inskrywing van Adam Mosseri, adjunkhoof van News Feed se produkbestuur, begin Facebook deur te fokus op die ergste slentersen gemorspos wat mense op Facebook rondstuur en deel.

Facebook gaan onder meer van mense gebruik maak wat feite nagaan.

Jy gaan nou ’n Facebook-inskrywing wat vals nuus bevat kan merk deur in die regterhoek van die inskrywing te klik. Volgens Wired.com gaan ’n groep navorsers dan die webblad met die nuus nagaan om te sien om dit ’n geloofwaardige nuuswebblad is. (Dis nie die inhoud wat nagegaan word nie maar eerder die webblad self, om te kyk of die skakel en die webblad self eg is.)

Volgens Eugene Kiely, direkteur van Factcheck.org sal Facebook dan ook vir mense in kennis stel dat die webblad of nuusstorie deur feite-navorsers nagegaan is en dat dit moontlik nie ’n ware storie of geloofwaardige bron is nie. Dit sal mense keer om sommer net stories te deel.

So kyk uit vir dié nuwe handige funksies op Facebook.

Wenke om ’n vals nuusstorie raak te sien:

Wie is die bron? Gaan kyk na die webblad se adres, is dit ’n regte een of is dit ’n adres wat bietjie verander is om misleidend te wees. Lees ook onder die “About” skakel of daar meer inligting is. Kyk of die kontakbesonderhede eg lyk.

Kyk na die opskrif en lees verder. As die opskrif skokkend is, lees verder voor jy net die inligting deel. Let op of die inligting in die storie volledig is. Staan daar net ’n naam sonder ’n van? Word regte mense aangehaal?

Kyk wie het die storie geskryf. Wie is die outeur? Het jy al van die joernalis gehoor? En as jy die naam Google, wat kry jy.

Is daar enige skakels na ander stories wat die storie ondersteun? Kyk of die inligting op ander geloofwaardige webblaaie herhaal word.

Soek die datum. Sommige stories is nie vals nie, maar is dalk stokoud en duik weer op in sosiale media. Dit kan ook gebeur dat onafhanklike nuusgebeure sommer net so aan ’n huidige nuusstorie gekoppel word.

Oppas vir satire! Sommige webblaaie is satiries van aard en dryf die spot met huidige nuusgebeure. Dié webblaaie word egter dikwels gemerk as satire-webblaaie. Moenie laat dit jou verwar nie.

- FactCheck.org