Die Paasvakansie is om die draai en Suid-Afrikaners sal binnekort die paaie aanpak, gretig om by hul bestemming uit te kom.

Die verkeer word jaar na jaar swaarder gedurende hierdie tyd en die hoeveelheid motorongelukke neem altyd gedurende vakansietye skerp toe.

“Nie net beteken dit jy moet versigtiger bestuur nie, maar jy moet ook seker maak dat jou voertuig in ’n puik toestand is; so baie ongelukke gebeur juis as gevolg van onpadwaardige voertuie”, sê Elmarie Twilley, ’n woordvoerder van Virseker. “Jy wil beslis ook nie langs die pad gestrand wees as gevolg van ’n voertuig wat onklaar geraak het nie, veral omdat dit jou kwesbaar laat teen misdaad.”

Wat is dus die beste manier om jou eie veiligheid, dié van jou geliefdes en ander padgebruikers te verseker? “Gaan jou motor minstens twee weke voor jou vertrek deeglik na sodat alle nodige herstelwerk betyds voltooi kan word,” stel Elmarie voor.

Jou oorsiglys moet die volgende insluit:

Ligte:

  • Maak seker alle gloeilampe op jou voertuig is in ’n werkende toestand sodat jy kan sien, gesien kan word en jou bedoelings duidelik kan aandui.
  • Maak seker jou hoofligte is reg verstel sodat hulle genoeg sigbaarheid op die pad bied sonder dat hulle te hoog skyn en so probleme vir aankomende motoriste te veroorsaak.

Ruite en ruitveërs:

  • Gaan alle ruite na om seker te maak dat hulle in ’n goeie toestand is en dat enige krake of happe herstel word. ’n Beskadigde voorruit belemmer sigbaarheid, maar beperk ook sy vermoë om jou in slegte weersomstandighede en tydens ’n ongeluk te beskerm.

  • Maak seker ruitveërs en hul meganismes werk reg en vee elke slag skoon.

Wiele en bande:

  • Maak seker alle wiele is stewig vas.
  • Gaan die loopvlak van jou bande na. Die wetlike minimum in Suid-Afrika is 1 mm loopvlak, maar enigiets minder as 3 mm beperk die band se vermoë om effektief te funksioneer.
  • Maak ook seker dat jou bande eweredig afloop. Bande wat oneweredig afloop, kan dui op ’n verslyte stuur- of veringskomponent, ’n oor- of onderopgeblase band of swak wielbalansering of -sporing.
  • Sien toe dat jou voertuig toegerus is met ’n spaarwiel wat in ’n goeie toestand is, en dat jy die regte domkrag en ander gereedskap het om ’n beskadigde wiel en band te vervang.

Remme:

  • Gaan jou voertuig se remvloeistof na en vul aan indien nodig.
  • Maak seker dat alle remskywe, -dromme en -skoene in ’n goeie toestand is, goed presteer en eweredig afloop. Voer ’n noodstoptoets uit om dubbel seker te maak. Enige oneweredige slytasie, ongewone geluide of vibrasies van die remstelsel moet ondersoek en herstel word.

Vering:

  • Sien toe dat jou voertuig se skokdempers en ander veringstelsels die bande ferm teen die grond hou.
  • As jou voertuig se ritgehalte harder as gewoonlik is, die voertuig baie rol wanneer jy ’n draai binnegaan of ’n groter afstand nodig het om te stop, moet jy moontlik verslyte of beskadigde veringskomponente, soos skokdempers of stutte, vervang.

Battery:

  • Toets jou voertuig se battery om seker te maak dat dit die korrekte lading lewer en, in die geval van diensbare batterye, dat die batterywater tot op die regte vlak gevul is.

Dryfbande en -kettings:

  • Maak seker alle dryfbande en -kettings wat aan die nok, alternator, waaier en ander komponente verbind is, is in ’n goeie toestand. Bande en kettings wat breek, kan enigiets van ongerief tot ernstige enjinskade veroorsaak.

Verkoelingstelsel:

  • Dis belangrik om seker te maak jou voertuig se verkoelingstelsel – veral die verkoeler en waterpomp – funksioneer reg. Maak ook seker die verkoelerdop seël behoorlik en die verkoelingsvloeistof is skoon en gevul.

Filters en vloeistowwe:

  • Om die maksimum doeltreffendheid van jou voertuig te verseker, sien toe dat alle belangrike filters (olie-, lug- en brandstoffilters) skoon is en goed funksioneer.
  • Wanneer jy die oliefilter vervang, maak seker jy dreineer alle ou olie uit jou voertuig en vervang dit met nuwe olie wat ooreenstem met die vervaardiger se spesifikasies.
  • Maak seker alle vloeistowwe is tot die voorgeskrewe vlak gevul.
  • Gaan alle olie-, lug- en brandstofstelsels vir lekplekke na en herstel waar nodig voor jy op reis vertrek.

Uitlaatstelsel:

  • Gaan die uitlaatstelsel deeglik na vir enige lekplekke. ’n Beskadigde uitlaatstelsel sal probleme met die verrigting en brandstofverbruik van jou voertuig veroorsaak, en hou ook ’n ernstige gesondheidsrisiko in.

Panele, monterings en bybehore:

  • Maak seker alle panele, monterings en bybehore (insluitend sleepstange en waens wat daaraan vas is) is in plek en behoorlik vas. Dieselfde geld vir enige vrag wat die voertuig dalk gaan dra.
  • Sien toe dat jou voertuig nie oorlaai is nie.

Veiligheids- of waarskuwingstoerusting:

  • Maak seker jy het ten minste ’n weerkaatsende driehoek of flitslig byderhand om aankomende motoriste te waarsku wanneer jou motor onklaar geraak het. Baie bestuurders maak slegs op hul voertuig se noodligte staat. Hulle hou nie in gedagte dat dié dalk nie sigbaar sal wees onder sekere omstandighede nie, of in die geval van ’n elektriese fout of probleem met die battery dalk geensins kan werk nie.

Versekering:

  • Sien toe dat jy voldoende motorversekering in plek het, en dat jy altyd alle ondersteunings- of noodnommers byderhand het.

Jou motor is nie die enigste ding wat padwaardig moet wees nie; dis baie belangrik dat jy genoeg slaap kry voor jy op ’n lang reis vertrek. “Moegheid is ’n groot oorsaak van padongelukke, so as jy nie lekker voel nie, vaak is of nie kans sien vir bestuur nie, is dit die moeite werd om om veiligheidsredes jou reis uit te stel,” sê Elmarie.

Verstel die sitplek en stuurwiel tot ’n gemaklike posisie. As jy ’n kussing moet gebruik om jou rug te steun en rugpyn te vermy, doen dit. Dra skoene wat gepas is vir bestuur.

Hou jou energievlakke tydens die rit hoog deur aan gesonde vrugte en ander voedsame kosse te peusel en jouself met water gehidreer te hou. Bly ontspanne deur te luister na musiek wat jy geniet.

“ ’n Gehaltesonbril is baie belangrik om skerp lig te keer en sal ook oogmoegheid voorkom,” sê Elmarie. “Om elke twee uur of wat ’n ruskans te neem is ook belangrik om op jou hoede te bly. Verminder jou stresvlakke voor ’n lang reis en vermy so ongelukke. Deel hiervan is om jou reis en roete deeglik te beplan. Dit sal jou gerusstel en meer ontspanne op die pad maak,” sluit sy af.

ctx0417_2725_eastercampaign_600x450_digitorial_huisegenoot