“Ma, kan asseblief een kry? Ag toe, Ma…” Of dit nou jou kleuter is wat R5 soek vir ’n masjien wat speelgoed uitspoeg, jou laerskoolkind wat ’n nuwe sokkerbal in die oog het of jou tiener wat ’n nuwe PlayStationspeletjie wil hê, jou kroos se wenslysie is eindeloos. En dit kan ’n groot gat in jou beursie maak as jy nie daarvoor begroot nie.

Maar pleks daarvan dat jy geld uitdeel elke keer dat hulle lank genoeg daaroor neul, waarom laat jy hulle nie self vir alles begroot deur vir hulle sakgeld te gee nie?

Kenners sê dis die beste manier om hulle van jongs af geldsake te leer verstaan en hulle terselfdertyd verantwoordelikhede aan te leer. Boonop sal dit die druk op jou én jou eie beursie verlig.

’n Opname in 2007 deur die internasionale marknavorsingsonderneming Synovate het gewys 34 persent van alle Suid- Afrikaanse kinders kry elke maand ’n vasgestelde bedrag sakgeld, terwyl 26 persent ’n bedrag kry wat wissel na gelang van hoeveel hul ouers daardie maand kan bekostig.

Net 48 persent van die kinders verrig take in en om die huis om hul sakgeld te verdien. En 91 persent van Suid-Afrikaanse ouers leer daadwerklik vir hul kinders hoe belangrik dit is om te spaar en wys hulle hoe om dit te doen.

Maar hoeveel sakgeld moet hulle op watter ouderdom kry?

En moet hulle in ruil daarvoor in die huis help? Elke ouer moet dit alles oorweeg na gelang van hul inkomste en hul kind se behoeftes, sê kenners met wie ons gepraat het. En kinders van so jonk soos twee kan al sakgeld kry.

“Jong kinders ken nie die verskil tussen ’n R1-muntstuk en ’n R200-noot nie. Al wat hulle weet, is dat geld dinge koop. Maar deur kinders toe te laat om te spaar en die geld dan te bestee, help jy hulle van kleins af selfstandig word en goeie be besluite neem,” sê Ken Resnick, ’n opvoedkundige sielkundige van Randburg.

Daar is geen moets en moenies as dit by sakgeld kom nie en elke ouer moet self besluit hoe hulle die saak wil hanteer, sê hy.

Sue Hanekom, ’n ma van twee van Villiersdorp, het ’n interessante strategie. Haar tweelingseuns, Ricardo en Martino, kry ’n boontjie elke keer dat hulle in die huis help soos hul kamer skoonmaak, bed opmaak, skottelgoed was of die troeteldiere kos gee.

“Aan die einde van die maand tel ek die boontjies en hulle kry 50c per boontjie. Dit werk gewoonlik uit op sowat R150 per maand,” sê sy. Sy meen dit leer hulle om hard te werk en dat jy niks vir niks kry nie.

“Ek was so keelvol van vra, dreig en al die goed wat ouers gewoonlik doen om hul kinders verantwoordelikheid te leer, maar nou is al my problem opgelos,” sê Sue.

“Nou word hul beddens elke oggend opgemaak. Ná aandete is daar nie meer ’n gesanik om asseblief tog die skottelgoed te was nie. Die honde word gevoer en hul kamer word netjies gehou.”

Sy sê sy doen dit nog nie lank nie; daarom kan sy nog nie sê watter uitwerking dit op lang termyn sal hê nie.

“Maar dit werk tot dusver goed en my stembande kry nou ’n welverdiende ruskans!”

Jy kan jou kind al van tweejarige ouderdom af begin sakgeld gee, maar die gemiddelde ouderdom waarop kinders vir die eerste keer sakgeld kry, is so vyf of ses. Jong kinders kan oor geld begin leer en dit verdien as hulle byvoorveeld 50c kry omdat hulle hul bord teruggeneem het kombuis toe nadat hulle geëet het.

“Jy kan hulle die waarde van geld help verstaan deur ’n lekkergoedboks in die huis te hou en dit ‘die winkel’ te noem. Dit is net ’n sekere tyd van die dag oop en dan kan hulle met hul geld koop wat hulle wil. Maar vir elke muntstuk wat hulle uitgee, moet hulle een in hul varkie spaar,” verduidelik Ken.

Wanneer hulle ouer is, moet hulle klein speelgoedjies en dingetjies uit verkoopmasjiene self met hul sakgeld koop, stel hy voor.

“Laat hulle voor enige uitstappie hul sakgeld gaan haal. Dit maak inkopies ’n plesier vir die ma. Die kind word aangesê om hul eie geld saam te neem en kan daarmee koop net wat hulle wil. Dit keer daardie geneul om jou ore wanneer jy saam met ’n kind gaan inkopies doen.”

Sakgeld gaan oor meer as om net jou kind gelukkig te hou; ouers moet dit as ’n geleentheid beskou om kinders oor geldkeuses in te lig. Kinders ken dikwels nie die verskil tussen wat hulle graag wil hê en wat hulle nodig het nie; daarom moet jy dit aan hulle verduidelik. Sê vir hulle wat hulle met hul eie geld moet koop en wat jy vir hulle sal koop, soos toiletware en klere.

Vertel ook vir hulle waar geld vandaan kom en dat jy ’n beperkte bedrag het waaruit jy alles moet dek. Gebruik die gesinseenheid as voorbeeld en verduidelik watter huishoudelike uitgawes julle het en hoe jy besluit waaraan jy eerste gaan geld bestee. As jou kinders geld kry vir die huishoudelike take wat hulle verrig, is dit dalk beter as hulle net “betaal” word vir bykomende pligte en nie vir dié wat hulle in elk geval moet doen nie, sê Ken.

“Hulle moet betaal word vir goed soos hondemis optel, skottelgoed was en diere kos gee, maar nie vir basiese goed soos om hul kamer netjies te hou, betyds aan te trek en tande te borsel nie.”

Nog ’n moontlikheid is om ’n minimum bedrag sakgeld vas te stel, gestel R30 per week, en dan ’n ekstra R10 te gee vir enige huistake wat jy wil hê hulle daardie week moet doen. Dit sal jou kinders laat besef dis belangrik om as lid van die gesin ’n bydrae tot die huishouding te lewer, en nie net om daarmee geld te verdien nie.

Maar hoeveel sakgeld behoort ’n kind te kry?

Dit hang alles af van ’n ouer se geldelike situasie, sê Ken. “Maar as riglyn: tot drie jaar oud R1,50 per dag; 3-4 jaar oud R2; 4-5 jaar oud R3,50 en so aan.

“ ’n Twaalfjarige kan R10 per dag verdien en dit kan verhoog word namate hulle ouer word.”

Ken stel voor dat wanneer jou kinders tieners begin word, jy saam met hulle moet gaan sit en ’n behoorlike begroting opstel. Verhogings kan op verjaardae gegee word. As jou kind op ander tye ’n verhoging vra, sê hulle moet jou op skrif wys waarop hulle hul geld bestee en wat hul geldplanne vir die toekoms is.

Topwenke oor sakgeld

  • Gee elke week op dieselfde dag hul sakgeld. Dit sal kinders bestendigheid leer en hulle sal beter kan beplan.
  • Laat hulle bestedingsfoute begaan en probeer om hulle nie daaroor te kritiseer nie. Ons het al almal foute gemaak en daaruit geleer.
  • Wys hulle hoe om op papier of die rekenaar ’n begroting op te stel sodat hulle kan sien wat van hul geld word.
  • Moet nooit uit woede hul sakgeld wegvat nie. Al wanneer jy dit behoort te doen, is wanneer jy jou tiener betrap dat hulle sigarette of drank daarmee koop.
  • Help hulle begroot. Jy kan vir hulle flesse gee met “bestee”, “spaar” en dalk ook “skenk” daarop. Die geld in “bestee” kan daagliks bestee word aan goed wat hulle wil hê, “spaar” is vir korttermyngoed soos om saam met maats te gaan fliek of langtermyngoed soos ’n nuwe speletjiekonsole. “Skenk” kan hulle maatskaplike verantwoordelikheid help aanleer.

Leer hulle die belangrikheid van spaar

The Children’s Mutual, wat in Brittanje kinders wil leer spaar, stel voor jou kinders verdeel hul geld soos ’n volwassene dit sou doen. Gaan sit by hulle en verduidelik hierdie terme aan hulle:

  • Korttermyn-spaar - Hierdie spaargeld is vir items wat jou kind in die volgende twee tot drie weke wil hê. Dit kan speelgoed, CD’s of fliekkaartjies wees.
  • Mediumtermyn-spaar - Moedig jou kind aan om te spaar vir geskenke vir die gesin, geld wat hulle in die volgende skoolvakansie kan uitgee of ’n groot item soos ’n nuwe selfoon, fiets of spesiale klere. Hier kan jy spaar aanmoedig deur te beloof dat jy die bedrag sal ewenaar wat hulle gespaar het.
  • Langtermyn-spaar - Verduidelik hoe belangrik dit is om oor ’n lang tydperk te spaar en hoe spaarrekeninge by banke werk. Verduidelik ook vir hulle as hulle elke week of maand ’n sekere bedrag spaar hoeveel geld hulle binne twee of drie jaar sal hê, plus die rente wat hulle daarop verdien.

Stel vir hulle ’n mikpunt.

En as hulle dikwels by familielede geld kry, moedig hulle aan om dit in hierdie bankrekening te spaar.

- Kim van Reizig