Dis weer feestyd in Windhoek, en danksy Huisgenoot kan Namibiërs hulle vir ’n groot saamkuier by die vierde jaarlikse Hart van Windhoek-fees gereed maak.

Vanjaar se fees vind plaas op 30 en 31 Augustus en ons is weer by die Doc Jubber-sportterein in die hoofstad. Meer as 25 kunstenaars sal op twee verhoë topvermaak verskaf, en tussendeur is daar hope ander aktiwiteite vir die hele gesin.

Op Vrydag 30 Augustus kan die jong mense nader staan vir kunstenaars soos Mi Casa, Bittereinder en Shadowclub. Saterdag is dit tyd vir Frühschoppen op die feesterrein, daardie eg Duitse tradisie van vroegoggend oor ’n glasie saamkuier, en daarna wag heerlike feeskos asook vermaak deur kunstenaars soos die nuwelinge Elvis Se Seun en ou bekendes soos Jannie Moolman, Karlien van Jaarsveld, Corlea Botha, Elvis Blue en Bobby van Jaarsveld. Kom kyk ook hoe deelnemers dit uitspook in die halfeind- en eindrondes van die Championship-boereworskompetisie. En maak maar gereed vir kuier tot laataand – Huisgenoot se Hart van Windhoek-fees word afgesluit deur Chris Chameleon, Die Heuwels Fantasties, Prime Circle en Kurt Darren.

Vanjaar se fees is die vierde wat Huisgenoot in samewerking met Hilltop Live Namibia aanbied danksy die ondersteuning van FNB, Windhoek Draught, Shoprite Checkers, Air Namibia, Coca-Cola, die radiostasie Kosmos 94.1 en die dagblad Die Republikein.

Ma’s en pa’s sal bly wees om te hoor vanjaar se fees beloof ’n groter Junior-zone waar kinders vermaak sal word. Aktiwiteite in dié area sluit in kinderteater, narre, speletjies, klimrame en musiek deur verskeie kunstenaars.

Goeie nuus vir gesinne is dat bespreekte sitplekke die Saterdag agter die goue sirkel beskikbaar is – met dié reëling is jou sitplek net joune, en kan jy met ’n geruste hart ’n draai gaan loop om ’n koue biertjie te kry sonder dat iemand jou sitplek afvat. As jy boonop jou kaartjies vooraf koop, kry jy afslag. Kaartjies is te kry by Computicket of takke van Shoprite en Checkers en pryse wissel van N$89 tot N$140. Kinders onder 12 kry toegang vir net N$25. Kaartjies sal ook by die hekke beskikbaar wees.

Gaan na www.hartvanwindhoek.com vir nog inligting of bel ons by +264-81-627-8801.

850X315-HvW-FACEBOOK

Koop die jongste mode en bykomstighede in ons aanlyn-winkel. Dis veilig en maklik.