Die Nal’ibali-lees-vir-pret-veldtog moedig ouers aan om minstens 15 minute per dag met hul kinders te lees. Maar hoe belangrik is hierdie klein daadjie?

  • Dinge wat deel van die alledaagse lewe se ritme word, raak baie gou soos ’n gewoonte. Die maklikste manier om kinders gewoond aan lees te maak is om hul liefde vir stories te gebruik. Wanneer jy elke dag met hulle lees, sien hulle dit as iets natuurliks wat mense elke dag doen, net soos eet en slaap.
  • Wanneer jy elke dag vir jou kinders lees, leer hulle hul lewe sluit die plesier van ’n goeie storie in. Om na ’n goeie storie uit te sien is ’n belangrike stap om hulle die res van hul lewe boekliefhebbers te maak.
  • Lees elke dag vir jou kinders, ongeag hoe besig jy is; dit beteken jy maak tyd vir hulle. Dit wys hulle hulle is belangrik vir jou. Dié herinnering gaan hulle die res van hul lewe bybly.
  • Kinder leer lees deur mense wat vir hulle voorlees en dit dan self te leer doen. Wanneer jy vir jong kinders voorlees, moet jy hulle wys hoe dit werk – hoe die prente en woorde saamwerk om die verhaal te vertel, hoe die woorde in ’n boek dieselfde bly elke keer dat jy dit lees en hoe die woorde betekenis dra. Hierdie kennis gaan hulle later help om hulself te leer lees.
  • Om elke dag vir jou kinders voor te lees – ongeag hul ouderdom – is ook ’n goeie manier om uit te vind wat hulle interesseer en om hulle te laat weet wat jou interesseer. Dis nie net die saam lees wat ’n verskil maak nie, die besprekings oor die verhaal en wat daarin gebeur, is ook belangrik. Sulke besprekings wakker kinders se denke, verbeelding, taal en begrip van mense aan. Dit help hulle bedagsame omgee-mense word.

Hierdie wenke kom met die komplimente van die Nal’ibali-lees-vir-Pret-veldtog. Dit mik om kinders se potensiaal deur lees en stories vertel aan te wakker. Besoek hul webwerf of vind hulle op Facebook of Twitter vir nog inligting, leeswenke en storie-idees wat jy met jou kinders of leesklub kan deel.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.