Almal het iets daaroor te sê. Maar dikwels gee paartjies te min aandag aan die impak wat ’n nuwe lewetjie op hul verhouding kan hê. Die titel van Stacie Cockrell, Cathy O’Neill en Julia Stone se boek oor die onderwerp som dit mooi op: Babyproofing Your Marriage: How to Laugh More, Argue Less, and Communicate Better as Your Family Grows.

Ons het ’n paar algemene wenke saamgestel om julle hiermee te help – dit klink dalk eenvoudig, maar kan ’n groot verskil maak.

Praat, praat, praat

Die grootste fout wat enige paartjie kan maak (of hulle nuwe ouers is of nie!), is om nie met mekaar te kommunikeer nie. Praat gereeld voor die geboorte oor julle verwagtinge – waarna julle uitsien en wat julle bang maak. En moenie ophou praat wanner die kleinding eers daar is nie! Verduidelik hoekom jy op ’n sekere manier reageer, wees eerlik (en redelik!) oor wat jy van jou maat verwag en moenie bang wees om te erken as jy oorweldig voel nie.

Wees selfsugtig

Kyk na julself sodat julle beter na jul baba kan kyk. Maak seker julle ruim alleentyd in – beplan afspraak-aande, selfs al voel julle asof slaap al is waarvoor julle kans sien! Vra ’n ouma of vriendin om die baba vir die aand op te pas. Onthou, julle is eerstens ’n paartjie voor julle ouers is.

Komplimenteer mekaar

Ouer-wees is vir julle albei nuut (en waarskynlik oorweldigend). Komplimenteer eerder jou maat se klein oorwinnings as om op enkele foute te konsentreer. Wys jou waardering wanneer jou maat jou met iets help.

Dis nie ’n kompetisie nie

Moenie “telling” hou van alles wat jy doen teenoor alles wat hy doen nie. Dit kan net slegte gevolge hê en tot onnodige rusies lei. Fokus eerder op wat jou maat wel doen om te help, en kommunikeer op ’n rustige manier wanneer daar iets is waarmee jy meer hulp nodig het. Moenie fokus op hoeveel harder jy dalk as hy werk nie, maar onthou eerder dat hy dalk veel harder werk (en ook minder slaap) as wat hy voor die baba se koms moes doen.

Beplan

Moenie jou lewe gedurig om jou baba beplan nie; probeer dit ook soms andersom doen – jy sal dalk verbaas wees oor hoe maklik jou baba kan aanpas; jou verhouding sal daarby baat vind.

Vra hulp (en aanvaar dit!)

Ouerskap is ’n groot verantwoordelikheid, dit hoef niemand jou te vertel nie. Erken vroeg reeds – aan julself en aan mekaar! – dat julle hulp gaan nodig hê, en moenie te hardkoppig wees om daarvoor te vra nie. As ’n vriendin of familielid aanbied om ’n uur of twee jou baba op te pas, aanvaar die aanbod!

Bronne: mom365.com, webmd.com, parents.com, babyproofingyourmarriage.com