Maandag begin nog ’n sarsie stakings, dié keer in die motorhandel en die brandstofbedryf, petroljoggies inkluis.

’n Bemiddelingsproses in dié twee bedrywe het op 28 Augustus ’n dooie punt bereik. Onderhandelinge sou Donderdag en Vrydag voortgesit word, maar volgens die National Union of Metal Workers (Numsa) is dit hoogs onwaarskynlik dat ’n staking vermy sal kan word.

Numsa het Donderdag werkgewersorganisasies in die motorhandel, brandstofbedryf en motorbedryf se bedingingsraad (Mibco) ingelig van sy stakingsplanne vir Maandag en sy vereistes vir loon- en ander onderhandelinge. Hy wil onder meer hê monteerders en band- en rubbervervaardigers moet ook by die onderhandelinge ingesluit word.

Van die eise wat hy stel, is ’n minimum loon van R6 000 per maand of R30 per uur teen 1 Julie 2016 en verhoging van R30 per uur vir alle werkers op alle vlakke wat meer as R6 000 per maand verdien. Ander eise hou verband met kwessies soos vaardigheidsgraderingstelsels, onderhandelingsvoorwaardes; werkervoordele, werkgewerbydraes en werktye.

- Bron: Sake24