Twitter, Facebook, Instagram – ma’s en pa’s weet dié sosiale netwerke kan tot oneindige probleme lei. Maar jy kan hulle help om dié netwerke veilig en verantwoordelik te gebruik – hier’s raad.

Privaatheid

Wat sosiale media betref, is die boodskap eenvoudig: Privaatheid bestaan nie, sê kenners. Selfs al is jou kind se Facebook-blad net vir vriende oopgestel, is daar geen waarborg dat inligting privaat gaan bly nie.

“Onthou, mense kan sonder jou wete iets van jou selfoon of rekenaar afhaal,” sê ’n sosialemediaprokureur van Johannesburg aan Huisgenoot.

Verduidelik vir jou kind:

  • Twitter en Instagram is nie privaat nie. Enigiemand kan sien wat hulle op hierdie sosiale netwerke doen.
  • GPS-verstellings (“location services”) kan gevaarlik wees. Jou kind kan ’n bekruiper hê wat op Facebook kan sien as hulle byvoorbeeld in ’n winkelsentrum is vir ’n fliek.
  • Jy kan lasposte op Twitter, Facebook en Instagram blokkeer. Wys hulle hoe.
  • Jou kind kan hul sosiale netwerk so stel dat wanneer iemand hulle in ’n inskrywing byhark (“tag”), hulle dit eers moet goedkeur voor dit op hul blad verskyn.

Hof toe

Jy kan die wet oortree op ’n sosiale netwerk. Leer jou kind hulle kan nie die ongewilde wiskunde-onnie op Facebook of Twitter na willekeur name noem nie. Hy kan ’n klag lê en jou kind kan van laster aangekla word.

Onthou:

  • Selfs inskrywings onder ’n skuilnaam kan danksy ’n rekenaar se IP-adres nagespoor word. As dit ernstig genoeg is, kan die polisie ’n lasbrief kry om vas te stel waar die inskrywing vandaan gekom het.
  • Pasop vir “likes”, “retweets” en “favourites”, waarsku ’n ander sosialemediaprokureur van Johannesburg. As iemand vir jou kind ’n naakfoto twiet en hulle hertwiet dit, kan hulle in die moeilikheid kom omdat hulle dit versprei het.

Die internet vergeet nooit nie

“Dis ’n tydlyn van jou lewe,” sê Dinesh Balliah, ’n dosent in nuwe en sosiale media aan die Universiteit van die Witwatersrand. “Iets wat jou kind nou sê, kan vir ewig voortbestaan.” Jou tienerdogter moet daarom twee keer dink voor sy ’n suggestiewe foto, al was dit net vir die pret, twiet of op Instagram deel. En jou seun moet besef wilde partytjiefoto’s, al het hy self as minderjarige niks verkeerds gedoen nie, kan hom later sy plek in die universiteitskoshuis kos.

Onthou - Foto’s en inskrywings oor die volgende kan jou in die sop laat beland:

  • Minderjarige alkoholgebruik.
  • Dwelmverwante plasings.
  • Rassistiese of homofobiese uitlatings of grappies.
  • Enige beelde van ’n seksuele aard.

Help, my kind het drooggemaak!

As jou kind in die sop is oor iets wat hy aanlyn aangevang het, probeer so gou moontlik die skade ongedaan maak. “Laat hulle dadelik die inskrywing verwyder en verskoning vra, maar pasop dat hulle nie skuld erken nie,” sê nog ’n sosialemediaprokureur van Johannesburg.

Dis belangrik dat jy met jou kind oor die voorval praat. “Vra waarom hulle dit gedoen het, want die rede kan boelies of ongelukkigheid wees,” sê Robyn Jacobs, ’n kindersielkundige van Kaapstad.

Sy stel voor dat jy saam met jou kind aan ’n verskoning werk, maar dat hy self sy gevoelens kan verwoord. As die misstap verband hou met onaanvaarbare gedrag, soos foto’s waarop jou kind alkohol drink of naakfoto’s, moet ’n toepaslike straf volg.

- Mieke Vlok