Dit is gewoonlik ’n moeilike besluit om jou kind kosskool toe te stuur, of jy nou ’n keuse het of nie.

As jy vir jou kinders die beste opvoeding wil gee en jy woon op die platteland of ’n plaas; hulle het spesiale behoeftes; jou persoonlike omstandighede laat jou nie toe om genoeg tyd saam met jou kinders deur te bring nie, of jy voel hulle sal baat by die struktuur, dan kan jy dit oorweeg om jou kinders hul hele skoolloopbaan lank of ’n gedeelte daarvan van die huis af weg te stuur.

Kinders moet vooraf op kosskool voorberei word, sê Tebogo Makgabo, ’n sielkundige van Gauteng. Ouers moet ook hul kinders se behoeftes in ag neem.

“Nie alle kinders reageer dieselfde nie en party van hulle, veral dié wat in gr. 1 al met kosskool begin, is dalk nog nie gereed om van hul ouers geskei te word nie,” sê sy.

“Dit help as ’n ouer broer of suster, familielid of kind uit jou gemeenskap dieselfde skool bywoon,” voeg sy by.

Tebogo meen kosskool kan ’n positiewe ervaring vir kinders wees, want hulle “het dikwels die kans om uit te blink wanneer hul aandag nie deur gesinsdrama, huistake en rusies, wedywering  tussen sibbe en die versoeking van groepsdruk afgelei word nie”.

Hier is wenke oor hoe om jou en jou kind die oorgang doeltreffend en gelukkig te help maak.

BEREI JOU KIND SO VOOR

Aanpas by ’n streng roetine

Van vroeg soggens af is daar klokke, toue en roetines. Verduidelik aan jou kind wat om te verwag deur deur die reëlboek of gedragskode van die kosskool te gaan. Hulle sal waarskynlik vaste tye hê vir opstaan, eet, studeer en TV kyk. Verduidelik die voordele hiervan aan jou kind.

Leer deel

Jou kind sal dalk nie hul eie kamer nie en sal ook ander geriewe soos badkamers moet deel.

Gee vir hulle idees oor hoe hulle “ek-tyd” kan vind wanneer hulle alleen wil wees en wat om in hul vrye tyd te doen. Praat met hulle oor hoe hulle in die nuwe omstandighede ’n gevoel sense van individualiteit kan behou.

Nuwe vriende maak

Help jou kind ontvanklik word om nuwe vriende te smee – veral as hulle skaam of selfbewus is en nie die sport- of ander ontspanningsaktiwiteite geniet wat die skool bied nie. Laat hulle oefen om hulself voor te stel en ’n gesprek aan te knoop.

Moedig deelname aan sport- of buitemuurse aktiwiteite aan wat hulle sal help vriende maak.

Oorbrug taalgrense

As Engels nie hul huistaal is nie, kan hulle sukkel, veral as van hulle verwag word om nuwe tradisies te volg. “Praat Engels by die huis,” sê Tebogo.

“Bou jou kind se selfbeeld en kulturele waarde op sodat hulle nie ondermyn word wanneer hulle met die ander kinders van ander kulture meng nie.”

Probleme oplos

Kinders moet verstaan dat hulle hul eie probleme sal moet oplos en hulle nie na hul ouers sal kan wend vir ondersteuning met alledaagse kwessies nie.

“Hulle kan ook nie skuil agter die verskoning dat hulle nie hul huiswerk gedoen het nie omdat hulle hul boek by die skool vergeet het nie,” sê Tebogo laggend. Help hulle bemagtig voel deur sekere probleemsituasies aan hulle te stel en te vra hoe hulle die situasies sal hanteer en watter oplossings hulle dink sal werk.

Geliefd voel

Verseker jou kind van jou liefde en dat jy hulle nie kosskool toe stuur om hulle onder jou voete uit te kry of omdat hulle ’n las is nie.

Beklemtoon dat jy glo dit is in hul beste belang om ’n goeie skool by te woon en dat jy hulle nie verwerp of straf nie. “Dit is geen skande om jou emosies te toon wanneer jy jou kind die eerste keer los nie,” sê Tebogo. “Om vir jou kind se onthalwe te probeer sterk lyk, kan hom die vals indruk gee dat jy nie omgee nie.”

TOPWENKE VIR OUERS

•Koop uniforms, boeke, skryfbehoeftes, sporttoerusting en informele klere vroegtydig en merk alles duidelik.

•Laat jou kind ’n paar “troosgoed” uit die huis kies – ’n sagte speelding, ’n gunsteling-kussing of ’n paar gesinsfoto’s.

•Maak vir jou kind ’n spesiale kalender waarop jy hul vakansies en tuisnaweke merk, die naweke wanneer jy by hulle sal gaan kuier en ander spesiale geleenthede. Sodoende sal hulle kan vorentoe kyk en positief oor hul situasie voel.

•Behou kontak met jou kind deur middel van Facebook, SMSe, e-posse, briewe of foonoproepe. Dit is goed om ’n vaste tyd te hê waarop jy elke week bel, soos seweuur Sondagaande. Sê vir hulle jy mis hulle en vertel vir hulle wat by die huis gebeur en hoe dit gaan met hul vriende of troeteldiere wat hulle agtergelaat het.

•Kontak gereeld die skoolhoof, onderwyser en koshuishoof sodat jy weet wat in jou kind se skoollewe aangaan.

•Dit is belangrik dat jy ouervergaderings bywoon, al beteken dit jy moet reis.

•Maak ’n ophef van jou kind wanneer hulle vakansies by die huis is. Beplan spesiale uitstappies, smee bande as gesin en betrek jou uitgebreide familie by aktiwiteite sodat jou kind weer by hul familie kan aansluiting vind en nie afgesonder voel nie.

HOU BY DIE REËLS

Trooskos

Vind uit watter peuselhappies jou kind in hul sluitkas mag hou. Hulle mag dalk hul gunsteling-koekies en peuselhappies saamvat.

Sakgeld

Die meeste skole laat kinders toe om ’n bietjie sakgeld te hê. Dit  word gewoonlik aan die huismoeder gegee en die kinders leer begroot en koop goed soos bederfies, toiletware of skoolvoorraad as hulle s’n opraak. Wees realisties met die bedrag wat jy vir jou kind gee. Probeer hou by wat die skool aanbeveel, as jy dit kan bekostig.

Selfone

Daar sal waarskynlik selfoonreëls en aangewese tye wees vir huis toe bel. Dit leer kinders hul lugtyd beperk. Foonhokkies is ook beskikbaar.

Baie kosskole bied vir die kinders e-posadresse en stuur gereeld vir die ouers nuusbriewe.

Kry hier hulp

Vir nog inligting oor kosskole in Suid-Afrika, teken aan by www.schoolguide.co.za.

– Burgie Ireland