Jannus en Kriek se oupa is ’n avonturier, ’n uitvinder en ’n baie onvoorspelbare man. Hulle weet nooit watter wonderbaarlike goeters in sy Dingesfabriek aan ’t broei is nie. In Die Dingesfabriek: Jannus en Kriek op die maan deur Elizabeth Wasserman neem hy hulle al die pad maan toe – net vir die middag!

Die tweeling Jannus en Kriek Knoets is min of meer agt jaar oud.  Die Knoets-gesin woon in Huis Deurmekruis, onder afrit 7 van die snelweg, naby die dokke in ’n groot stad. Hulle ouers is Knersius en Soetlief Knoets. Knersius is die speltoetser van ’n groot boekuitgewery. Soetlief is ’n gevaarlike spioen. Die tweeling se troeteldier is ’n meerkat met die naam Meneer Snoek. Sy is ’n wyfiemeerkat, maar haar voornaam is Meneer en haar van is Snoek.  Maar seker die belangrikste karakter in die verhaal, behalwe die tweeling natuurlik, is hul oupa. Hy is ’n avonturier, ’n uitvinder en ’n baie onvoorspelbare ou man. As hy nie iewers anders is nie, bly hy onder Huis Deurmekruis in ’n soort kelderverdieping, waar hy allerhande interessante dinge doen en goeters in sy laboratorium uitvind. Sy brein is so groot en so besig dat dit vir hom moeilik is om aandag aan gewone dinge te gee. Miskien raak hy net ’n bietjie deurmekaar weens die ouderdom, want hy noem alle ingewikkelde goed “dinges”.

Hierdie boek vertel hoe Jannus en Kriek hul oupa beter leer ken, en die storie van hul eerste avontuur saam. Dit is beskikbaar op die Storierak-app en word voorgelees deur Deidre Wolhuter. Dit is ideaal vir kinders tussen die ouderdomme van agt en 10.

jannus en kriek_copy pic

Klik hier vir nog inligting.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.