Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: sowat 2 uur

Jy benodig:

  • 30 ml (2 e) kookolie
  • 30 g botter of margarien
  • 2 kg stowevleis (vark, bees of skaap), in blokkies gesny
  • 1 groot ui, grof gekap
  • 5 ml (1 t) gemengde droë speserye
  • 2 heel naeltjies
  • 1 ml (¼ t) neutmuskaat
  • 1 klein lourierblaar
  • 1 ml (¼ t) droë tiemie
  • 12 ml (2½ t) sout
  • 5 ml (1 t) vars gemaalde swartpeper
  • 30 ml (2 e) bruinasyn
  • 500 ml (2 k) hoender- of vleisaftreksel, verhit
  • 12 klein aartappeltjies, met skil
  • 8 heel piekeluitjies, geskil
  • 12 klein worteltjies, geskil

Maak so:

1.Verhit die olie en die botter of margarien in ’n groot swartpot en braai die vleisblokkies ’n bietjie op ’n slag op warm kole tot bruin. Geur met sout en peper. Skep die gebraaide vleis uit.

2.Braai die uie in dieselfde pot, voeg al die speserye, tiemie en sout by en roerbraai effens sodat die geur ontwikkel.

3.Plaas die vleis terug in die pot bo-op die uimengsel.

4.Meng die asyn en vleisaftreksel, voeg by en plaas die deksel op. Laat prut sowat 2 uur op stadige kole tot die vleis byna sag is.

5.Plaas die aartappels, uitjies en wortels bo-op en laat nog 30 minute prut tot die groente net gaar, maar steeds effens bros is.

6.Sit voor met brood, stywepap of stampmielies en bone.