Weier jou kinders om groente te eet? Hierdie geurige groentesop met spek sal dié probleem blitsvinnig oplos en is geskik vir jonk en oud – dit kan ook fyngemaak word met ‘n staafmenger vir baba’s ouer as 9 maande. Die resep is boonop ook lekker vinnig en maklik.Genoeg vir 4-6 mense

Jy benodig:

  • olie vir braai
  • 250 g spek of gerookte varkvleis, grof gesny
  • 1, 5 L (6 k) groenteaftreksel
  • 4 selderystingels, fyn gekap
  • 1 ui, in blokkies gesny
  • 2 wortels, in blokkies gesny
  • 1 patat, gerasper en in blokkies gesny
  • 1 blik (400 g) botterbone, gedreineer
  • sout en vars gemaalde swartpeper
  • 60 ml vars kruie (pietersielie, tiemie, koljander en basiliekruid) fyn gekap
  • 100 ml gerasperde parmesaankaas

Maak so: 

  1. Verhit die olie en braai die spek of varkvleis ’n paar minute tot gaar en geurig in ’n groot kastrol.
  2. Giet die groenteaftreksel by die spek of varkvleis.
  3. Voeg die seldery, ui, wortels en patat by en bring tot kookpunt.
  4. Verlaag die hitte, plaas ’n deksel op en laat prut sowat 20 minute.
  5. Voeg die botterbone by en laat prut nog 10 minute.
  6. Geur met sout en peper.
  7. Maak die sop gedeeltelik fyn met ’n staafmenger sodat dit steeds ’n growwe tekstuur het.
  8. Roer die vars kruie by die sop.
  9. Skep teelepels vol van die gerasperde kaas in klein hopies op ‘n gesmeerde bakplaat.
  10. Verprei die kaas effens en rooster dit onder die roosterelement.
  11. Laat rus die koekies ‘n minuut en trek dit van die bakpapier af.
  12. Skep die sop in bakkies en sit ‘n paar parmensaankoekies bo-op die sop.