Het jy geweet jy kan op Facebook aan ’n opname deelneem en Facebook jou nuustoevoer by jou belangstellings laat aanpas? Of dat daar ’n app is wat jou jou Facebook-tuisblad kan help skoonmaak? Hier is ’n paar maniere hoe jy kan regstel wat jou die meeste oor Facebook irriteer – daardie speletjieversoeke, die vriende wat aanhou kla oor hul lewe, of die feit dat al jou werkkontakte ook jou Facebook-vriende is, wat beteken jy kan nie sê wat jy wil wanneer jy wil nie.

  • 1.    Kry kennisgewings van die regte vriende

Dalk het jy ’n vriend wat selde op Facebook is, maar jy loop dit mis wanneer hulle wel ’n kennisgewing plaas. Pleks daarvan sien jy heeltyd kennisgewings van mense wat jy onlangs in ’n kuierplek ontmoet het en nie regtig voor omgee nie. Nooit weer nie! Hou jou merker oor jy vriend se naam en kies get notifications. Facebook sal jou nou laat weet wanneer die goeie vriend iets plaas. Jy kan dit ook gebruik om iemand dop te hou op wie jy ’n ogie het . . .

  • 2.    Raak ontslae van die spelers

Stuur een van jou vriende gedurig vir jou Farmville-versoeke? Het hulle ook nou vir jou Candy Crush-versoeke begin stuur? Jy kan jou rekening stel om app-versoeke van spesifieke mense af outomaties te blokkeer. Gaan na jou verstellings (klik op die afpyltjie aan die regterkant van die blou staaf bo-aan jou tuisskerm). Wanneer die verstellings oop is, kies die blocking-oortjie aan die linkerkant van die blad. Tik die skuldige se naam in en jy sal nooit weer ’n uitnodiging vir ’n speletjie of app van hulle af ontvang nie.

  • 3.    Neem aan ’n opname deel

Die eienskap stel jou in staat om die goed waarin jy regtig belangstel in jou nuustoevoer te sien. Gaan na enige plasing in jou toevoer, klik op die afpyltjie aan die regterkant daarvan en kies dan Take a survey to improve News Feed. Facebook gee vir jou 10 statements (plasings van mense in jou toevoer) en jy beoordeel hulle op ’n skaal van strongly disagree tot strongly agree. Jou nuustoevoer word dan aangepas om meer te wys van dit waarvan jy hou.

  • 4.    Maak seker jou profiel is regtig privaat

Gaan na jou aktiwiteitesjoernaal (ook te kry onder die afpyltjie regs bo-aan jou tuisblad) en kyk watter van jou ou foto’s nog openbaar is en wie jou plasings kan sien deur jou merker oor die klein ikoon regs van elke item van jou nuustoevoer te hou. Vee hulle dan uit, verander hul status of verwyder hulle van jou nuustoevoer. Jy kan ook jou privaatheid van dieselfde blad af beheer en plasings uitvee wat jy nie meer in jou nuustoevoer wil hê nie.

  • 5.    Kry ’n bietjie hulp

Die Social Fixer-app vir Facebook bied wonderlike keuses: jy kan goed op jou Facebook-blad versteek wat dit oorvol maak, jy kan jou nuustoevoer filter volgens skrywer en sleutelwoord, jy kan oortjies op jou nuustoevoer skep om nuus van spesifieke apps soos Instagram te sien (stel jou voor ’n mooigemaakte Instagram-toevoer op jou Facebook-tuisblad!), en jy kan verstel hoe jou Facebook-blad lyk met bestaande temas. Besoek socialfixer.com vir nog sulke idees.

  • 6.    Verdeel en oorwin

Dit is aanvanklik harde werk, maar jou lewe sal baie eenvoudiger wees as jy eers jou Facebook-vriende in groepe verdeel het. Elke keer dat jy jou status bywerk, kan jy dan kies watter groepe dit kan sien en watter nie – jy hoef jou nie te bekommer dat jou ouma (as sy op Facebook is) sal sien wat jy gedink het van die aantreklike ou met wie jy gisteraand uit was nie. Doen dit deur jou merker oor ’n vriend se naam te hou en dan op die vriende-oortjie te klik. Kies add to another list of add to list onder die aftrekkieslys.