’n Eenjarige babameisie het glo op ’n gelaaide R5-aanvalsgeweer afgekom wat die polisie in haar ouerhuis vergeet het en het daarmee probeer speel berig Netwerk24.

Kobus en Nikita van Zyl van Randfontein aan die Wes-Rand het Dinsdag kort voor 12:00?die polisie ontbied nadat booswigte by hulle probeer inbreek het.

Die diewe het ’n kragopwekker gebuit.

Een van die polisiebeamptes het toe sy geweer in die sitkamer, naby die baba se speelgoed, teen die muur staangemaak en dit daar vergeet.

Nikita, klein Nianke se ma, het gesê sy het yskoud geword toe sy op haar baba afkom wat met die geweer “sit en speel”.

Die nalatige polisiebeampte het eers twee uur later sy wapen by die Van Zyl-egpaar kom haal.

Die vrou het vertel die beamptes het in haar sitkamer met die gewere gesit om haar verklaring af te neem.

Kol.?Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval is onder die aandag van die stasiebevelvoerder gebring en tugstappe word teen die polisielede gedoen.

LEES MEER HIER