’n Indiese vrou wat haar dogter in ’n padongeluk verloor het, reguleer nou self verkeer by die plek om nog lewensverlies te voorkom, het ’n koerant Maandag berig.

Dorris Francis (57) beheer verkeer by die gevaarlike kruising in Ghaziabad, naby Nieu-Delhi, waar haar 17-jarige dogter Niki ses jaar gelede deur ’n jaende motor getref is, het die Times of India berig. Die bedroefde ma beman dié “pos” al etlike jare om te verseker niemand anders sterf soos Niki nie. Sy werk nie vir die verkeerspolisie nie en kan nie oortreders beboet nie, maar bestuur elke oggend die verkeer met ’n houtstok en streng houding. Sy sê sedert sy daar staan, was daar nog net een noodlottige ongeluk.

'Ek sal seker maak nie een persoon verloor hul lewe weens onverskillige bestuurders nie.'

“Solank ek lewe in my het, sal ek met die werk voortgaan. Ek sal seker maak nie een persoon verloor hul lewe weens onverskillige bestuurders nie. As God lewe skenk, moet dit gebruik word vir die samelewing se voordeel,” het sy gesê.

Plaaslike inwoners en polisie het Dorris geprys omdat sy haar taak verrig ten spyte van haar ouderdom en hipertensie.

Indië is berug daarvoor dat dit die meeste verkeersterftes ter wêreld het. Volgens regeringsdata sterf daar jaarliks 135 000 mense in verwante ongelukke.

- Sapa