Sy beskryf die vonnis van vier jaar gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan strafbare manslag nie, en die 18 maande gemeenskapsdiens as “belaglik”.

“Ons het vir byna vyf jaar baklei en gedink dit gaan ’n baie swaarder straf wees. Is dit wat my seuntjie se lewe werd is? Niks sal ooit sy leemte vul nie. Sy sussie sal hom nooit leer ken nie,” vertel Geraldine.

“Wat ek vir altyd van hom gaan mis, is daardie potblou ogies, sy lewenslustigheid en no care-houdinkie. Hy was ’n regte klein seuntjie.”

Hy sou vanjaar gr. 1 begin het. Oral in die koerante en op TV moes Geraldine toekyk hoe ma’s hulle haasbekkies vir die eerste keer “grootskool” toe vat. Dit sou ook sy en Jaundré gewees het:

“Toe ek vanjaar sy ouer boetie gaan aflaai vir die eerste dag terug by die skool, was al Jaundré se kleuterskoolmaatjies daar om met gr. 1 te begin.”

Geraldine se stem word onderbreek deur snikke. Jy kan oor die telefoon aanvoel dat die seer vir haar nog so rou is. “Dit het vir hom vier jaar geneem om te sê hy is skuldig,” kry sy deur die huil deur gesê.

Die narkotiseur, dr. Deon Kotze, het op 18 Januarie erken hy was nalatig en het dus skuldig gepleit. Luidens sy verklaring erken hy sy bedoeling was om die halotaan, ’n middel wat vir narkose gebruik word, ná twee minute van vyf persent na twee persent te verminder, maar hy het nie. Dit het ernstige kardiorespiratoriese onderdrukking veroorsaak by Juandré.

Die gemeenskapsdiens wat hy opgelê is, sal onder meer behels dat dr. Kotze mediese opleiding aan narkotiseurs gee.

“Hoe kan hy wat vir die dood van ’n kind verantwoordelik is, studente oplei. Ek verstaan dit nie,” sê Geraldine.

’n Saak van strafbare manslag is teen dr. Deon Kotze aanhangig gemaak nadat Jaundré op 4 Mei 2012 in Mediclinic Vereeniging dood is. Streeklanddros Retha Willemse het gedurende die hofverrigtinge gesê weens die kompleksiteit van die saak is twee deskundige assessore aangestel om hulp te verleen.

Intussen sukkel Geraldine se oudste seuntjie, Heinie (10), om oor sy boetie se dood te kom. Hy was vyf toe Jaundré dood is.

“Sy gemoed gaan op en af, so saam met ons s’n,” vertel Geraldine. Hy het, soos sy en haar man, Heinrich, sielkundige hulp ontvang. Hy het baie aggressief geraak en gedink dis sy skuld dat sy boetie dood is.

“Vir my is dit moeilik om met ’n vreemde mens te praat oor hierdie baie private gevoelens binne my. Die dood van my kind het ook spanning op my huwelik geplaas, omdat ons steeds so baie emosies het wat ons elkeen afsonderlik moet hanteer.”

Die egpaar het op 23 Oktober 2014 ’n babadogtertjie, Jessica, ryker geword. Jessica beteken geskenk van God. “Sy is nou amper so oud soos Jaundré was. Ons vertel haar baie oor haar boetie en die huis is vol foto’s van hom.

[caption id="attachment_155835" align="aligncenter" width="600"]Foto: Facebook. Foto: Facebook.[/caption]

“Op sy verjaardag en spesiale dae soos Kersfees en Paasfees gaan besoek ons sy graffie in Heidelberg. Dan sal Jessica na die graf wys en sê: ‘Ghoempie se huis.’ Dit was sy bynaam.”

Ekstra bronne: vaalweekblad.com, maroelamedia.co.za

an