’n Sewentienjarige skoolmeisie was geskok toe ’n onderwyser haar Dinsdag tydens ’n byeenkoms uitsonder oor haar kleredrag.

Dit was Valentynsdag by die Trinityhouse-hoërskool in Little Falls, Johannesburg en leerders kon ontspanne drag skool toe dra. Die meisie, wie se identiteit beskerm word, het ’n kort rooi toppie, noupassende jeans en sandale gedra.

Terwyl die leerders op pad was na die saal vir die byeenkoms daardie oggend het ’n onderwyser die gr. 12-leerder voorgekeer en vir haar gesê om in die kantoor te gaan wag.

fbpic

Daar is sy deur die graadhoof en skoolhoof gekonfronteer wat vir haar gesê het sy sou nie in klasse toegelaat word nie omdat haar uitrusting “heeltemal onvanpas vir skool is”.

Die tiener het eindelik haar ma gebel.

“My kind het gehuil oor die foon en toe ek by die skool opdaag, was sy onsteld en het my gesmeek om haar huis toe te neem,” het die ma aan Huisgenoot vertel.

“Ek het haar help aantrek en was gelukkig met wat sy gedra het; ek het nie gedink daar skort enigiets met haar uitrusting nie.”

Maar volgens haar geskokte ma, het die skoolhoof nie saamgestem nie.

“Sy’t gesê die manier hoe meisies deesdae aantrek, is waglik en dat my dogter se uitrusting haar persoonlik aanstoot gee.”

fbpic2

Die tiener sê die hoof het die heeltyd aan haar benadruk dat daar tuiniers, manlike onderwysers en seuns by die skool is.

“Toe die skoolhoof by die kantoor instap, het sy net na my gekyk en gesê daar’s geen verskoning nie, ek is onvanpas aangetrek en dis disrespekvol teenoor hulle (die mans by die skool).”

“Ek was geskok want ek het dieselfde uitrusting verlede jaar gedra en daar was nie enige geklagtes nie,” sê die leerder.

Andries van Renssen, algemene bestuurder van Trinityhouse-skole, het in ’n verklaring aan Huisgenoot gesê die gr. 12-leerder het duidelik die kleredragreëls oortree. Hy het gesê sy is twee keer voor haar ma opgedaag het ’n ander hemp aangebied, maar het dit geweier.

“Elke poging is aangewend om die situasie op ’n diskrete wys en weg van haar medeleerders te hanteer,” sê Andries.

“Die situasie is vinnig opgelos. Die leerder het gekies om ’n splinternuwe hemp van die hoof, in haar ma se teenwoordigheid, te aanvaar. Sy het in geskikte drag na haar klasse gegaan nadat sy nie meer as die eerste periode van die dag gemis het nie.”

Die meisie se ma het die voorval op Facebook gedeel omdat sy keelvol was vir hoe “die samelewing vroue onderdruk” en gesê “dis nie die eerste voorval waarvan sy hoor nie”.

fbpost

“Ons word uitgekryt as slette oor hoe ons aantrek omdat ons nie mans moet ontstel of prikkel nie. Dis nie regverdig om dit aan ’n jong meisie te doen nie.”

Die openbare inskrywing is wyd gedeel, maar het gemengde reaksie ontlok. “Sy’t net haarself om te blameer. Geen dekorum,” was een van die kommentare.

Nog een het laat hoor: “Ag, asseblief! Sy’s bedek, behalwe as sy haar arms oplig, en dan is ’n klein stukkie van haar maag ‘ontbloot’. Ek het al erger by my dogter se laerskool gesien, met broeke wat so styf sit dat dit lyk of dit aangespuit is. Jy lyk pragtig, meisie!”

Trinityhouse het gesê die skool en die skoolhoof veroordeel enige vorm van seksuele geweld, lyfafkrakery en viktimisering.

Hulle het benadruk dat die skoolhoof nie sê dat slagoffers van seksuele aanranding vir die aanranding blameer moet word nie.

“Sy’t ook nie lyfafkrakery goedgepraat of voortgesit nie. Sy het wel gesê die skool is ’n leeromgewing en dat die kleredrag bevorderlik vir leer moet wees.”

“Dit spyt Trinityhouse dat hierdie voorval die openbare domein bereik het. Die skool is egter vol vertroue dat die kwessie (die eerste van sy soort) op die mees geskikte, regverdige en redelike wyse aangespreek is.

“Die leerder se ma het geen verdere interaksie oor die kwessie met die skool gehad het. Dit is betreurenswaardig. Sy het egter haar mening in die sosiale media uitgespreek.”

Lees die skool se volledige verklaring hier.