Andrea Goeppner (45), wat bure as ’n “gawe vrou” bestempel, sê sy kan nie presies onthou hoeveel van haar babas sy tussen 2003 en 2013 om die lewe gebring het nie. “Dit kon twee, drie of vier gewees het,” het sy in die hof getuig.

Andrea word aangekla weens vier uit ’n moontlike agt moorde. Een van die babas is doodgebore en die ander is te ver ontbind om vas te stel of hulle wel hul geboorte oorleef het. Volgens haar verklaring was sy alleen tuis elke keer dat sy die lewe aan die agt babas geskenk het. Andrea het glo die babas in handdoeke toegedraai en die oomblik dat hulle begin beweeg of huil het, hulle versmoor. Daarna het sy die lyk in ’n plastieksak of –houer gesit en iewers in die huis weggesteek.

Volgens die staat wou sy nie nog kinders gehad het nie, maar sy het nagelaat om voorbehoedmiddels te gebruik.

“Sy het bloot gekies om seksueel aktief te bly sonder enige gedagte aan die nagevolge of die waarde van ’n pasgebore baba,” het die staat aangevoer. Andrea sowel as haar man het elk reeds twee kinders gehad voor hulle getroud is. Uit dié huwelik is drie kinders gebore wat oorleef het. Haar man, Johann Goeppner (55), word aangekla weens medepligtigheid omdat hy nie die moorde probeer verhoed het. Die staat voer aan hy moes geweet het van die swangerskappe en kon gekeer het dat sy swanger raak. “Deur sy gebrek aan optrede het hy sy vrou in al die gevalle ondersteun.”

Luidens berigte het hy die huis in Oktober 2015 verlaat. ’n Maand later het ’n inwoner van die woonstelblok op ’n babalykie in die woonstel afgekom nadat Andrea glo tydens ’n besope sessie oor weggesteekte babalykies tuis gebabbel het. Die polisie is ontbied en hulle het die grusame ontdekking van talle lykies gedoen.

Tydens sy verskyning in die hof Dinsdag het hy sy vrou as ’n kompulsiewe leuenaar en inkopieslaaf bestempel wat van haar ma en kinders gesteel het.

Uitspraak sal na verwagting op Woensdag 20 Julie gelewer word.

Hierdie is nie die eerste grusame saak waar ’n ma haar kinders vermoor en wegsteek nie.

In 2008 is die tandheelkundige assistant Sabine Hilschenz (42) skuldig bevind aan die moord op agt kinders. Inderwaarheid is nege van haar kinders, twee seuns en sewe dogters, dood. Die tydperk vir vervolging van moord op haar eerste kind het egter verstryk. Sy het die lyke in potplanthouers, emmers en ’n ou vistenk in die huis versteek. Sy het afsondering en alkoholisme vir die moorde verkwalik.

Monika Halbe (44) het haar twee babas, wat in 1988 en 2003 gebore is, vermoor. Soos in die geval van Sabine Hilschenz het sy ’n derde baba vermoor, maar vanweë die tydverloop, kon sy nie ook weens daardie moord aangekla word nie.

Sy het hul lykies dekades lank in die kelder van haar huis in ’n vrieskas onder bevrore pizzas weggesteek. Die lyke is gevind toe twee van haar kinders besluit het om die vrieskas skoon te maak en van kos ontslae te raak wat verval het.

Bronne: ibtimes.co.uk, telegraph.co.uk, bangkokpost.com, sky.com, murderpedia.org, the guardian.com