In die blog het Maggie geskryf oor ’n voorval toe 'n kollega haar sowat twee weke gelede op regstreekse video dopgehou het terwyl sy borsmelk gepomp het. Sy het nie geweet sy word dopgehou nie.

Maggie, wat ’n sewe maande oue baba het, pomp gewoonlik in haar geslote kantoor borsmelk, maar het daardie dag in ’n ander gebou gewerk. Sy het vooraf gereël dat daar ’n vertrek is waar sy privaat kan wees.

Nadat Maggie die kamera in die vertrek opgemerk het, was sy geskok. Sy het die voorval aangemeld en nog stappe gedoen. 

In haar blog skryf sy sy is "woedend" oor die voorval en dat sy daaroor praat omdat sy wil keer dat dit met enigiemand anders gebeur.

“My werkgewer het die voorval ondersoek en hanteer die saak volgens ons beleid. Ek het ook ’n kriminele klag gelê. Die mens is in hegtenis geneem,” het sy op haar blog geskryf.

Die inskrywing is intussen wyd in die sosiale media gedeel en haar storie het ook op nuuswebtuistes opslae gemaak.

“Ek is verstom en eerlikwaar effens oorweldig deur die reaksie. Ek het gehoop om 'n gesprek te begin en bewusmaking te skep, maar hierdie skaal het ek nie verwag nie,” sê sy aan Huisgenoot.

“Die mediabelangstelling is ook goed en nodig. Ek vertrou die goue draad deur al hierdie stories sal een bly van iemand wat opgestaan het vir haar basiese reg op privaatheid.”

Volgens Maggie het sy sedert die blog-inskrywing uit alle oorde steun gekry.

“Baie mammas het vir my boodskappe van ondersteuning gestuur en ook van hul negatiewe ervarings met betrekking tot borsvoeding gedeel. Ek hoop hierdie hele gemors gee ander die moed om ook op te staan vir iets wat 'n basiese reg moet wees vir ma's en hul babas. Of jy borsvoed of formulemelk gee, die viktimisering van ma's moet regtig end kry.”

Maggie is vasbeslote om die beweging Normalise Breastfeeding (SA Campaign) te steun.

Hulle probeer al jare om wetgewing in plek te kry wat ma’s wat in die publiek borsvoed teen teistering en diskriminasie te beskerm, het sy op haar blog verduidelik.