Dit is die woorde waarmee Tariq en Yasmien Moosa hul dogter Taskeen beskryf.

“Maar ons glo sy is op ‘n beter plek en wag vir ons,” voeg Yasmien by.

Die egpaar, van Winchester in Johannesburg, het die smart ervaar om hul dogter te verloor toe sy op ’n brose een jaar sterf. 

“Dit was ‘n baie moeilike tydperk in ons lewe,” vertel Yasmien.

Die Moosa-gesin is al deur baie maar weier om op te gee. Foto: Verskaf.

In Oktober 2009 is Taskeen met gastro in die hospitaal opgeneem. Sy is in ‘n hospitaalsaal geplaas oorkant ‘n kind wat masels gehad het.

Taskeen is van die aaklige infeksie genees en is ontslaan, maar toe sy by die huis kom, het die gesin agtergekom die meisietjie asook Yasmien het masels opgedoen. 

Haar toestand het vinnig versleg, maar niks kon die gesin voorberei op wat sou volg nie. 

“Ons het haar hospitaal toe gevat en sy is dadelik opgeneem,” sê Yasmien oor die tragiese voorval.

“Sy is die volgende dag oorlede, 20 Oktober 2009.”

Yasmien was reeds geskok oor haar dogter se skielike dood en was onbewus daarvan dat sy swanger is. 

Die feit dat sy masels opgedoen het, het veroorsaak dat sy ‘n miskraam kry – net vyf dae ná Taskeen se dood.

Baba Taskeen voor haar afsterwe Foto: Verskaf

Die egpaar het ‘n moeilike tyd beleef, maar Yasmien en Tariq het onwrikbare hoop en geloof gehad.

In 2011 het hulle ‘n gesonde seuntjie verwelkom. 

Ná die verpletterende verlies van twee babas, het Mohammed Ismail die ouers se trots en vreugde geword.

Hulle was gretig om hul gesin uit te brei en Yasmien het twee jaar later weer swanger geraak.

Dit het gelyk of dit beter gaan met die Moosa-gesin, wat al soveel hartseer verduur het. Maar min het hulle geweet ‘n heel nuwe beproewing lê vir hulle voor. 

“Ek kan onthou ek het op die kraamtafel gelê en my man hoor vra: ‘Is hy oukei?’ Ek het hom gevra of alles in die haak is, maar hy het my net aangestaar, wit soos ‘n spook, vir wat soos ‘n ewigheid gevoel het."

“Uiteindelik het hy net vir my gesê die baba is piekfyn en saam met die verpleegster uit die vertrek gestap.”

Yasmien se swangerskap het geen teken getoon dat daar iets ernstigs met haar baba fout is nie. Haar ginekoloog het ook nooit iets vreemds bespeur nie. 

Dit was eers ná sy geboorte dat hulle besef het iets is abnormaal.

Mohammed Yaqeen is met ’n ernstige geval van artrogripose (of “klompvoete”) gebore, asook amniotiese-band-sindroom en ‘n stert aan sy rug, net onder sy ruggraat. 

Yasmien en Tariq was verslae.

“Ons het nie gedink ons seun sou oorleef nie. Ons was uiters gespanne; emosioneel, liggaamlik en geestelik buite onsself, en radeloos,” sê Yasmien.

Mohammed Yaqeen het al verskeie operasies ondergaan en kry steeds dieselfde behandeling waarmee hy begin het toe hy maar drie dae oud was. 

Die drie jaar sedert sy geboorte was traumaties vir die gesin en hulle ervaar steeds kwaai emosionele trauma en stres. Hul enigste wens is dat hulle voor sy geboorte van sy toestand geweet het, sodat hulle kon voorberei op wat sou kom. 

“Ons sou nie die swangerskap beëindig het nie. Ons ken die pyn van ‘n kind verloor. Maak nie saak wat die omstandighede met ons seun is nie, ons sou hom steeds in ons lewe wou gehad het."

“Tweedens, aborsie is teen ons geloof. Die toestande tersyde, ons het hom onvoorwaardelik lief.”

Die gesin is ook gewikkel in ‘n voortslepende stryd met hul mediese fonds, wat weier om die kostes vir  Mohammed Yaqeen te dek. Dit het Tariq onder finansiële stremming geplaas, voeg die egpaar by. 

Die pa en man werk tans vir homself nadat hy verplig is om uit sy vorige pos by ’n versekeringsmaatskappy te bedank. 

Mohammed Yaqeen toe hy ’n baba was. Foto: Verskaf
Mohammed Yaqeen het sy eerste operasie ondergaan toe hy slegs drie dae oud was. Foto: Verskaf
Die Moosa-gesin is al deur troebel waters. Foto: Verskaf

Mohammed Yaqeen loop met die hulp van beenstutte en spesiale skoene. 

En al lyk hy dalk ‘n bietjie anders as sy broer, keer dit nie dat Mohammed Yaqeen ‘n dapper en gelukkige knapie is nie.

“Hy is die sterkste klein mens wat ek ken,” sê Yasmien trots. Niemand sou hulle ooit kon voorstel wat hy deurgemaak het nie. Elke keer as hy val en seerkry, is dit stresvol. Maar hy is ‘n baie sterk seun en hy het die grootste hart – en ‘n hardkoppige streep daarby!”

En waarvan hou die moedige klein driejarige? Skynbaar enigiets waarvan ‘n deursnee-kleuter sal hou.

“Hy bring graag naweke by die winkelsentrum deur, speel speletjies, kyk flieks, gaan vang vis of wanneer ons hulle vir ete uitneem. Maar hy hou die heel meeste daarvan om met ouboet Mohammed Ismail en hul twee konyne, Fuzzy en Fluffy, te speel.”

‘n Oppasser versorg Mohammed Yaqeen bedags en sy liefdevolle grootouers kom kuier gereeld terwyl sy ouers by die werk is. 

Al breek dit Yasmien en Tariq se hart om hul seuntjie pynlike operasies te sien verduur, is hulle dankbaar vir sy lewe en die borrelende persoonlikheid wat daardie klein lyfie bevat. 

“Ons wil net hê ons seun moet ’n gesonde kind wees,” sê Yasmien.

“Ons wil hê hy moet saam met sy broer kan rondharloop en saam met ander kinders sokker speel. Ons wil nie hê hy moet afgeknou word oor sy toestand nie. Ons wil hê hy moet gelukkig en die beste weergawe van homself wees.”

Sy voeg by hul krag lê in hul oortuiging dat die moeilikste stryde aan die taaiste soldate gegee word.

“Ons vind die krag om aan te gaan deur te weet dat jy nooit in ‘n situasie geplaas gaan word wat jy nie kan hanteer nie.”

“Ons glo die sterkste mense moet die moeilikste stryde stry. Soos die gesegde lui: Allah weet die beste.”

Tenspyte van alles is Mohammed Yaqeen steeds die gelukkigste seuntjie. Foto: Verskaf