“My kind was nie eens siek nie,” sê Aileen Jansen van Vuuren (44) oor die raaiselagtige dood van haar tienerdogter, Cora-Lee (16).

[caption id="attachment_165908" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Aileen het ’n tweede nadoodse ondersoek aangevra nadat Cora-Lee, leerling aan die Marais Viljoen Hoërskool op Alberton, op 11 Maart onverklaarklaarbaar in haar slaap oorlede is.

“Ek het al gewonder of ek nie aan ’n engel geboorte geskenk het nie. Haar dood maak net nie sin nie. Ons wag nog vir die uitslag van die staat se lykskouing om haar raaiselagtige dood te verklaar, maar het intussen ook ’n privaat nadoodse ondersoek laat doen,” vertel Ailleen aan huisgenoot.com.

“Al wat ek soek, is antwoorde en berusting,” sê sy oor die ondersoek wat sy die dag voor Cora-Lee se begrafnis (17 Maart) laat doen het.

Sy het reeds die uitslag van die privaat lykskouing ontvang, maar wag vir die uitslag van die staat se post mortem voordat sy die inligting bekendmaak.

Aileen het op haar dogter sy lewelose liggaam in haar bed afgekom. “Ek het eers nie besef dat sy nie meer met ons is nie. Eers toe ek aan haar raak en haar rustige gesigsuitdrukking sien, het ek besef dat my dogter weg is.”

Aileen vertel dat Cora-Lee nog die vorige dag ’n hokkiewedstryd gespeel het. Die aand was dit ’n normale Saterdagaand vir die Jansen van Vuurengesin, met almal wat tot laat nog lekker saam gesels en gekuier het.

Min het Aileen en haar man, Lucas (54), geweet dat dit hul laaste kuier met Cora-Lee sou wees.

Volgens haar spanmaats het sy Saterdag (10 Maart) die hokkiewedstryd van haar lewe gespeel, amper asof dit haar laaste wedstryd was.

[caption id="attachment_165909" align="alignnone" width="593"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

“Dit gaan baie moeilik, maar ek kan nie nou opgee nie. Ek het ’n jonger dogter wat nog van my afhanklik is. Eers wanneer Kania (9) snags gaan slaap, huil ek.”

Aileen vertel dat Cora-Lee se pa nie juis oor haar dood praat nie. Sy vermoed dat dit sy manier is om hulle dogter se raaiselagtige dood te verwerk.

Cora-Lee se roudiens is gehou by die Alberton Lewensentrum, waar sy die afgelope ruk baie tyd deurgebring het. “Dit gee my vertroosting dat Cora-Lee haar hart ’n maand voor haar dood volkome aan die Here gegee het,” vertel sy oor Cora-Lee betrokkenheid by die sentrum se Trefpunt-jeuggroep.

Cora-Lee word oorleef deur haar ma, pa, drie susters en broer.

“Ek sê vir jou een ding, my kind was nie siek nie,” sluit sy af.