Marilee Kenny van Kuilsrivier naby Kaapstad se dogter Ansolei moes op 26 Augustus verlede jaar met ’n keisersnee gebore word omdat sy as’t ware regop gesit het in die baarmoeder.

[caption id="attachment_116833" align="alignnone" width="600"]blah Marilee saam met Ansolei. Foto: Verskaf[/caption]

Maar reeds voor haar geboorte het Marilee se dokters ekstra skanderings laat doen omdat hulle vermoed het alles is nie pluis met Ansolei se heupe nie.

Die uitslag van die skanderings was nie goed nie. Ansolei het wat hulle noem ontwikkelingsheupdisplasie (OHD). Dis ’n toestand waar die potjies van ’n baba of kleuter se heupbene nie voldoende gevorm het nie. Die bal van die heupbeen is los en kan maklik uitglip.

Gelukkig het Marilee vroeg raakgesien Ansolei ly aan OHD en het sy die nodige behandeling gekry.

Sy deel haar storie met Huisgenoot.

“Ansolei was maar ’n week oud, toe stap ons in by die spreekkamer van dr. Ryno du Plessis, ’n uitstekende ortopeed by die Mediclinic Louis Leipoldt in Kaapstad. Hy het haar sonar een kyk gegee en verduidelik sy ly aan OHD. Tog was die versekering gou daar: Ons kan dit regstel, want ons het dit vroeg raakgesien.

Lees ook: Pa deel foto van babadogter se toon om te waarsku teen gevaarlike toestand

My dogter is toe geplaas in wat hulle ’n Pavlik-harnas noem. Sy moes dit dag en nag aanhê; niemand mag daaraan stel of dit uittrek nie. Sy kon nie gebad word nie; ek mag haar net afgevee het.

Dit was baie traumaties toe hy die harnas aansit; ewe skielik was daar iets tussen my en my baba. Ek kon niks anders as die harnas raaksien nie. Ek kon haar nie mooi aantrek nie, en daar was geen velkontak nie. Ek was ten gronde.

Al het ek geweet dis beter om dit eerder vroeër as later te doen, is dit glad nie lekker om jou baba so te sien nie.

[caption id="attachment_116824" align="alignnone" width="600"]Blah blah Dit was vir Marilee glad nie lekker om haar baba in die Pavlik-harnas te sien nie. Foto: Verskaf[/caption]

Kort voor lank het ek begin planne beraam: Hoe gaan ek keer dat dit haar skaaf? Hoe gaan ek keer dat die harnas vuil word? Hoe gaan ek haar mooi aantrek? Ek laat maak toe oortreksels om haar vel te beskerm en wye broeke wat oor die harnas sou pas.

Op vyf weke kom die slegte nuus: Ansolei se bene wou nie stabiliseer nie. Die volgende stap was gips. Dit behels volle narkose, gips vir ses weke, weer volle narkose en gips vir ses weke.

Ryno het ons nog een week gegee: As Ansolei se heupe nie ná sewe dae verbetering toon nie, sou hy moes voortgaan met die gips.

Ek het so gehoop die harnas doen sy ding, maar moes ’n manier vind om my baba se bene oop te hou. Op die internet het ek waardevolle inligting gekry oor die moets en moenies met kinders in ’n Pavlik-harnas.

[caption id="attachment_116830" align="alignnone" width="600"]Blah bl Marilee het Ansolei se harnas met oortrek om haar vel te beskerm. Foto: Verskaf[/caption]

Jy moet byvoorbeeld nie hul voete en bene oplig wanneer jy hul doek omruil nie; lig hulle bloot onder hul boude sodat hul bene soos ’n padda s’n oopbly. Moet hulle ook nie op hul sy laat slaap of drink nie, en hul klere moenie hul bene na mekaar toe druk nie.

Vasbeslote dat my kind nie in gips gaan wees nie, het ek vir Ansolei ’n lapdoek bo-oor haar doek aangetrek om haar bene oop te hou.

Die volgende week was Ryno kinderlik opgewonde oor Ansolei se vordering. Die gips was nie meer nodig nie. Ná talle sonars en kliniese ondersoeke hoor ons vroeg in November die goeie nuus dat haar heupe genoegsaam gestabiliseer het en dat die harnas in Januarie kon afkom. Ons was in die wolke!

Lees ook: Amerikaanse wetenskaplikes kry toestemming om genetika van menslike embrio’s te verander

Middel Januarie is Ansolei se harnas eindelik verwyder. As ek nie al die navorsing oor die Pavlik gedoen het nie, sou my kind moes gips kry. Ryno se woorde 'die sonar wys haar heupe is nou normaal', is seker die mooiste sin wat ek nog gehoor het!”

[caption id="attachment_116831" align="alignnone" width="600"]blah Ansolei se harnas het gehelp om haar ontwikkelingsheupdisplasie te genees. Foto: Verskaf [/caption]

Marilee wil nou raad en ondersteuning bied aan ander ouers wie se kinders met OHD gebore word of wat dit later ontwikkel.

Die tekens waarop ouers moet let, is:

  • Heupe wat klik (’n mens voel dit onder hul boudjies).
  • Bene wat nie ewe lank is nie.
  • Die voue van die vel onder die boude lyk nie aan albei kante dieselfde nie.
  • Die een been kan uitgedraai wees.
  • By babas veroorsaak OHD nie pyn nie, maar wel by kleuters en ouer kinders.

As OHD vroeg gediagnoseer word, word die baba gewoonlik in die Pavlik-harnas geplaas (soos Ansolei). Dié harnas is omtrent 90 persent van die tyd suksesvol. Volgens Marilee is dit wel steeds belangrik dat ouers na die volgende let:

  • Hou die bene soveel moontlik oop.
  • Tel die baba onder sy boude/lae rug op wanneer jy die doek ruil.
  • Moenie jou baba te lank in ’n karstoeltjie laat sit nie.

Moenie baklei teen die harnas of gips nie; dit gaan jou net emosioneel uitput, meen Marilee. “Aanvaar dit en vat dit dag vir dag. Jy mag huil, maar dis erger vir jou as vir die kind. Hulle pas gou aan.”

[caption id="attachment_116834" align="alignnone" width="600"]Marilee saam met haar man, Andrew, en Ansolei by hul dokter, Ryno. Foto: Verskaf. Marilee saam met haar man, Andrew, en Ansolei by hul dokter, Ryno. Foto: Verskaf.[/caption]

As OHD nie behandel word nie, kan dit tot permanente heupprobleme ly. Een been kan ook korter wees as die ander.

Hoewel daar geen spesifieke oorsaak vir OHD is nie, speel genetika ’n rol. Dis oorerflik en kom gewoonlik voor by eersgebore dogters of stuitbabas.

Die posisie van die baba in die baarmoeder kan ook ’n rol speel omdat dit drukking op die heupe plaas en die ligamente rek. Die posisionering van babas tydens hul eerste lewensjaar speel ook ’n groot rol.

In kultuurgroepe waar babas met hul bene teen mekaar styf toegedraai word, is die gevalle van OHD baie hoër as in kulture waar babas in die “padda-posisie” op die ma se rug gedra word. Let op die posisie as jy jou baba teen jou lyf dra: Die bene moet oop wees met die knieë hoër as die boude.

Besoek hipdysplasia.org vir nog inligting.

– Saamgestel deur Petrus Malherbe

Hierdie storie is deur een van ons lesers ingestuur. Dis effens geredigeer en bygewerk.

Het jy ’n treffende storie om te vertel? Of dit nou ’n ongelooflike prestasie is, ’n hartverskeurende struikelblok wat jy moes oorkom het of sommer net iets wat jou laat lag het – deel jou storie met ons en dit verskyn dalk in Huisgenoot of op ons webtuiste.

Klik hier om uit te vind hoe.