Chiara Rojnic Pasic (32) word van die moord op haar eie kind beskuldig. Sy wou glo met vakansie gaan en hy het haar teruggehou.

Pasic wou op reis gaan, maar klein Denis was die rede waarom sy in haar tuisstad, Pula, op die Istrië-skiereiland in Kroasië, moes bly.

Sy het na bewering die seuntjie doodgemaak omdat sy Masedonië toe wou gaan en hy haar verhinder het om dit te doen.

Pasic word daarvan beskuldig dat sy sy liggaampie in ’n rivier gegooi het in ’n poging om haar misdaad te verbloem.


Sy het na bewering die polisie ’n dag ná die moord gebel en hom as vermis aangemeld.

Die polisie het ’n ondersoek van stapel gestuur en Pasic in hegtenis geneem.

Bure by die woonstel waar Pasic ’n maand lank gebly het voor haar seun se dood, het gesê hulle het die kind hoor huil.

Hulle het dit oorweeg om dit aan die owerheid te rapporteer, maar wou nie “inmeng” by gesinsake nie.

“Ons het net geweet die seuntjie het so aanhoudend gehuil dat die vrou in die woonstel onderkant hulle die polisie wou bel, maar sy het die plan laat vaar,” vertel ’n buurvrou.

’n Ander buurvrou het eenkeer vir hom ’n speelding gekoop en hy het haar baie styf omhels en aan haar been vasgeklou. Hy wou haar nie laat gaan nie.

“Hy was ’n baie dierbare seuntjie.”

Denis het by sy ma gebly. Sy pa is glo in ’n tronk in Bosnië-Herzegowina.

Die polisie het op 23 Mei, ná die moord, ’n 14-jarige meisie in hegtenis geneem wat Pasic na bewering gehelp het. Die 14-jarige, wie se naam nie bekend is nie, het glo gejok toe sy sê sy is Pasic se halfsuster terwyl sy in werklikheid haar vriendin is.

Die polisie het ook ’n 29-jarige Kroasiër, wie se naam ook nie genoem word nie, in hegtenis geneem omdat hy na bewering van die misdaad geweet en dit nie aangemeld het nie.

“Die polisie het ’n volledige ondersoek ingestel en hulle het die vermoede bevestig dat die 32-jarige vrou van Kroasië en die minderjarige Kroatiese vrou ’n moord gepleeg het.

“Die 29-jarige man, ook ’n burger van Kroasië, het ’n misdaad gepleeg omdat hy dit nie aangemeld het nie,” het ’n polisiewoordvoerder het gesê.

– Magazine Features