.

Cherish (27) het saam met drie van haar vier kinders, waaronder haar twee maande oue seun Huxton, inkopies gedoen. Volgens haar verklaring het sy gejaagd gevoel terwyl sy deur die winkel gehaas het om lekkers vir haar nefie se verjaarsdag te koop.

Sy is uit by die winkel met twee van haar kinders, maar het per ongeluk haar jongste in ’n trollie voor die inkopiesentrum gelos.

“Ek het in my motor geklim en ek sit gewoonlik my trollie weg. Maar dit was nie nodig nie omdat ek voor die winkel parkeer het en ek parkeer nooit daar nie. En toe ry ek weg.”

’n Polisieman wat nie aan diens was nie het die kleinding uit die trollie gehaal en hom na ’n nabygeleë salon geneem terwyl hy sy ouers probeer opspoor het.

Cherish het haar fout agtergekom en 40 minute later teruggekeer op soek na haar seun. “Toe ek by die motorhuis intrek, het my driejarige gevra: ‘Waar is baba Huxton?’ Sy motorsitplek is reg agter myne. Ek het omgedraai en besef dis weg.”

Cherish erken dit het haar ’n rukkie geneem om terug te keer na die winkel, maar ontken gerugte dat sy ure later teruggekeer het. “Dit was 40 minute, nie twee ure nie. En ek het nooit my ander kinders uit die kar laat klim nie, so dis nie asof ek geweet het ek het hom agtergelaat nie. Ek het die heeltyd gedink hy’s in my kar.”

Die kleinding was gelukkig ongedeerd en dit gaan goed met hom.

Die voorval het sosiale media laat gons en sy is deur talle mense veroordeel. Een Twitter-gebruiker het laat hoor sy is ’n “slegte ma wat seker dronk was”. Ander het haar weer kort ná die storie uitgekom het onder die hutsteken #IstandwithCherish op Twitter ondersteun.

Gelukkig vir Cherish het haar toegewyde man haar deur die beproewing bygestaan. “Ek het met die beste vrou en ma vir ons kinders getrou,” het haar man, Nathan Peterson, laat hoor.

“Dit was ’n fout en ons het daaruit geleer, maar ons is nie volmaak nie. Ons het ons kinders lief en is dankbaar dat alles oukei is.”

Nadat die polisie in Arizona aanvanklik gesê het hulle gaan nie die jong ma aankla nie, ondersoek hulle nou ’n saak van kinderbedreiging.

Bronne: dailymail.co.uk, kpho.com