Chandré Snyman (16) se ma, Amilia Jonas, het aan Huisgenoot gesê haar dogter het Dinsdagoggend vir haar ’n stemboodskap gestuur en gesê sy is "ontevrede" oor haar foto orals in die media verskyn.

Amilia sê verder sy vermoed Chandré het van die huis af weggeloop. Dis glo ook nie die eerste keer dat dit gebeur nie.

“Maar gewoonlik is sy na ’n dag weer terug. Dit is die eerste keer dat sy vir so lank wegbly.

“Die polisie het ’n adres gekry van waar sy is, maar hulle is daar weg sonder haar,” sê Amilia. Volgens haar is Chandré vermoedelik saam met ’n "19-jarige outjie".

Chandré is maar net een van vier jong meisies van dié Kaapse voorstad wie se verdwying die afgelope week talle mense laat kopkrap.

Nayoca Plato (17) en Robin van Leeve (19), albei leerders aan Hoërskool De Kuilen, het op 1 Maart saam verdwyn, maar hulle is ook albei intussen gevind. Micaela du Preez (17) is sedert 2 Maart soek.

Dessie Rechner, stigterslid en direkteur van die organisasie The Pink Ladies, het Dinsdagmiddag aan Huisgenoot bevestig dat al drie gevind is.

Lede van die gemeenskap in en om Kuilsrivier is nog op die uitkyk vir die ander meisie.

“Die polisie is besig om alle moontlike leidrade op te volg en die ondersoek is steeds aan die gang,” het sers. Noloyiso Rwexana op sy beurt gesê.

Rwexana het wel bevestig dat die ander meisie nog as vermis beskou word.

Mense met inligting kan die Pink Ladies by 072 214 7439 kontak.