Die ma van een van die vroue wat in die Lily-myn in Mpumalanga vasgekeer is, het siek geraak weens stres, het haar man, Elmond Mnisi, aan News24 gesê.

Elmond sê sy vrou sukkel om die nuus te verwerk sedert hulle die oproep ontvang het dat hul dogter Yvonne, ondergronds vasgekeer is.

Hy sê sy vrou sukkel met hoë bloeddruk en dit het Woensdag die hoogte ingeskiet.

“Dit gaan nie goed nie. My vrou kan dit nie verwerk nie. Sy is heeltyd in trane. Dit maak my seer, want daar’s niks wat ek kan doen nie. Ek sê heeltyd vir haar sy moenie moed verloor nie; ons dogter sal opgespoor word.”

Lees ook: Honderde myners vasgekeer in SA myn

Hy sê meeste van die familielede slaap sedert Vrydag in ’n tent naby die myn. “My familie is hier vir ondersteuning. Dit help ons om kalm te bly.”

Mynstorting

Yvonne en haar kollegas Pretty Mabuza en Solomon Nyarenda was in ’n lampkamer in ’n vraghouer naby die ingang van die myn toe ’n rotsstut, bekend as ’n kroonpilaar, Vrydag meegee.

Die vraghouer is ingesluk deur ’n sinkgat wat so groot is soos ’n rugbyveld. Altesaam 76 mynwerkers is gered.

Elmond sê hy is bang om sy twee kleinkinders van vier en nege jaar te sien sou enigiets met hul ma gebeur.

“Ek weet sy leef. Ek glo dit en ons het daaroor gebid. Ek is bekommerd oor haar twee seuns; hulle weet nie wat aangaan nie. Ek sou dit nie kan hanteer om hulle te sien as enigiets met my kind sou gebeur nie. Maar ek het geloof.”

Elmond beskryf die 23-jarige Yvonne as ’n passievolle vrou wat dol is oor haar werk.

“Sy geniet haar werk en is ’n wonderlike vrou. Ek is baie trots op haar. Ek wil net hê sy moet terugkeer na haar seuns en ma toe. Ons het haar nodig.”

Lees ook: Rolspelers reageer oor Zuma se dag in die hof

Ondersteuning

Hy is beïndruk met die steun wat die familie van plaaslike inwoners, mynbestuur, die regering en die mynwerkersvakbond Amcu ontvang.

“Ek wil dankie sê vir die mense wat so hard werk vir my kind. Hierdie mense werk dag en nag en lig ons oor elke ontwikkeling in.”

Maandagoggend is ’n geklop van binne die myn gehoor. Dit het reddingswerkers laat hoop die drie werkers leef.

Hulle het op Dinsdag om 13:00 laas tekens van lewe gehoor. Drie reddingspanne werk in skofte om tonne rotse te skuif om die drie te vind, sê John Sibiya, Amcu se sekretaris in Mpumalanga.

Bron: News24

Ander stories op huisgenoot.com:

Begroot só wanneer jy noustrop trek

So lyk ’n McDonald’s Happy Meal glo ná SES jaar

Kyk net hierdie bekendes se verborge talente

Hoe nou? Kyk net watter lawwe verskonings gebruik mense om weg te bly van die werk af!

Nuttige veiligheidswenke om jou spruit te beskerm

Wat is die gevaarlikste dier ter wêreld???