Rentia Oosthuizen (24) van Graaff-Reinet het pas met ’n goue, twee silwer- en een bronsmedalje teruggekeer van Italië, waar sy aan die Olimpiese Downsindroomspele deelgeneem het.

Sy het puik gevaar in die 4 x 400 m-aflos, verspring, driekamp en die 800 m-stap. Rentia is ook die Afrika-rekordhouer in die 800 m-stap, 100 m, 200 m, verspring en driekamp.

In 2014 het sy Suid-Afrika tydens die Downsindroom-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Mexiko in die swembad verteenwoordig en toe ’n bronsmedalje in die 4 x 100 m-aflos gewen.

Die ekstatiese atleet se eerste woorde was na sy die goud in Italië verower het: “Ek het die goud, Mamma!” vertel haar ma, René.

[caption id="attachment_132725" align="aligncenter" width="600"]Rentia en haar ma, René. Foto verskaf. Rentia en haar ma, René. Foto verskaf.[/caption]

Rentia sê: “Dit is so lekker, ek wil dit weer doen.”

René, wat saam met haar dogter in Italië was, vertel sy het daar besef sy het nie 24 jaar gelede geweet wat sy vandag weet nie.

“Daar word so ’n donker prentjie van kinders met Downsindroom geskep dat die toekoms vir die ouers ook donker lyk,” vertel sy.

“Toe sy ’n baba was, het ek nooit kon droom sy sou eendag ’n beroepsportvrou word nie. Maar mense moet weet kinders met Downsindroom kan alles doen wat ander doen; hulle doen dit net stadiger.”

Dis egter baie uitdagend om ’n swemloopbaan te volg as jy op die platteland bly. “Die eerste ding is ’n swembad!” sê René.

“Toe sy ’n kind was, het ons gewoon op Middelburg (Oos-Kaap), waar daar nie ’n groot swembad is nie. Sy moes toe in ons eie klein 7 m-swembad by die huis oefen!”

Die Oosthuizens bly die afgelope jaar op Graaff-Reinet, waar die skool darem ’n groot swembad het. Professionele afrigting is nie beskikbaar nie; daarom oefen Rentia sommer onder haar ma se wakende oog.

En wat is dié jong sportvrou se toekomsdroom? “Nog goud, nog goud!” sê sy opgewonde.