Tania Clarence (42) is in hegtenis geneem nadat die lyke van ’n vierjarige meisie en twee driejarige seuntjies Dinsdagaand gevind is. Bure sê Tania, ’n grafiese ontwerper, en haar man, Gary, wat vir die beleggingsreus Investec werk, het vier kinders gehad, waarvan drie erg gestrem was.

Die polisie het die slagoffers as die driejarige tweeling Ben en Max en die vierjarige Olivia geïdentifiseer. Hulle het gely aan ’n ongeneeslike genetiese afwyking, spinale spieratrofie, wat die spiere laat wegkwyn. “Mev. Tania Clarence (42) sal op Vrydag 25 April in die landdroshof in Wimbledon op drie aanklagte van moord verskyn,” het Scotland Yard in ’n verklaring gesê.

Nadoodse ondersoeke is Donderdag begin op die liggame wat in die vyfslaapkamerhuis in die voorstad New Malden in die suide van Londen gevind is. Die ondersoeke is nog nie afgehandel nie.

- Sapa