Stadig maar seker word hulle gesond.

“Ons lol nie vandag te veel met hom (haar seun, Wynandt) nie. Hy het gister seergekry en ons wil net seker maak die pressure garment, wat van harde materiaal gemaak is, pas beter.”

Die drukkleed forseer die oorplantingsvel in Wynandt (14) se verbrande vel in om dit nuut te maak. Hy moet dit twee jaar dra. Wynandt het op 7 Julie erge brandwonde oor 60 persent van sy liggaam opgedoen nadat ’n brand in sy slaapkamer ontstaan het.

Wynand Vermaak se verbrande lyf moet om die uur ingevryf word met room en olie vir die volgende twee jaar. Foto: Facebook

Hy is ’n maand ná die ongeluk uit die Melomed Bellville-hospitaal ontslaan, maar sal eers in Januarie 2018 kan terugkeer skool toe en eers oor twee jaar weer sy vernuf op die rugbyveld kan ten toon stel. 

“Nou begin Ma se harde werk,” vertel Lelani. Sy moet elke uur sy vel met spesiale akwaroom en klapperolie bevog. Wynandt sukkel steeds met eenvoudige goed, soos om ’n pen vas te hou. Die arbeidsterapie help ook hiermee.

Lelani het Wynandt en sy sussie, McKenzie (5), uit die vlamme gered. Hulle kon ná ’n lang tyd praat nadat hy uit ’n geïnduseerde koma gebring is, onder meer weens die pyn van sy beserings.

Tydens die reddingspoging het die vel aan Lelani se hande en voete kwaai gebrand. Veral haar regtervoet het baie seergekry. “Ek kan darem al ’n tekkie aan my linkervoet aantrek,” vertel sy opgewonde oor die foon aan Huisgenoot.com.

Die gesin bly in ’n gastehuis tot hulle op 1 September in hul nuwe huurhuis intrek. ’n Nuwe woonplek vir ’n nuwe begin.