Die ster van Maleficent het Zahara in Julie 2005 aangeneem toe die Ethiopiese boorling net ses maande oud was.

Zahara se ouma het op die amptelike aannemingsdokumente aangedui dat die baba ’n vigswesie was, maar die kind se ma, Mentewab Dawit Lebiso, het daarna na vore gekom en gesê sy lewe en wil in aanraking bly met haar dogter, wat sy erken het “baie gelukkig” is om deel van Angelina se kroos te wees.

Die aktrise het nie in die openbaar op Mentewab se pleidooi reageer nie, maar die desperate ma het nou weer probeer om Zahara, wat vroeër vandeesmaand 12 geword het, beter te leer ken.

“Ek wil net hê sy moet weet ek lewe en dat ek verlang om met haar te praat,” het Mentewab aan die DailyMail.co.uk gesê. “Ek wil nie my dogter terughê nie, ek wil net in kontak met haar wees en haar bel en met haar gesels.”

Mentewab hou vol sy is dankbaar dat die superster haar baba ’n baie gemaklike lewe gee, maar sy verlang steeds na kontak met Zahara.

“Angelina was meer van ’n ma vir haar as wat ek ooit was. Sy is met haar van babatyd af, maar dit beteken nie dat ek haar nie mis nie. Ek mis haar gedurig. Ek dink elke dag aan haar en verlang daarna om haar stem te hoor of haar gesig te sien.

“Ek weet wanneer sy verjaar, maar ek is hartseer omdat ek nie die dag saam met haar kan vier nie. Ek sou so graag haar verjaardae en ander spesiale dae saam met haar wou vier."

Angelina het nog nie kommentaar gelewer op Mentewab se jongste poging om tot haar uit te reik nie. Sy raak tans gewoond aan die lewe as enkelma van ses kinders nadat haar en haar man, Brad Pitt, se paadjies in September geskei het.

© Cover Media