Klein Charlie Kate Crenshaw het ’n stralende glimlag, pragtige blou oë en die skattigste mollige gesiggie. Maar as mense haar die eerste keer ontmoet, is hul eerste vraag altyd: “Wat skort met haar gesig?” Die ses maande oue baba is gebore met kapillêre hemangioom oftewel ’n “aarbei-geboortemerk” op haar gesig – die letsel is sowat 5 cm breed en 6 cm lank. Dis ’n nie-kwaadaardige gewas wat bestaan uit ’n abnormale groei van klein bloedvate.

Charlie se ma, Katie Mullis Crenshaw, takel die stigma verbonde aan haar dogter se geboortemerk een pragtige Instagram-kiekie op ’n slag en sê “ek wil graag die ‘verskille’ in voorkoms ’n normale ding maak,” sê sy.

Katie, wat ’n blogger vir Huffington Post is, sê mense het al vir haar gesê sy moet Charlie “draai na haar goeie kant toe” of goed soos “ek bid dat dit sal weggaan” of “ag, seën die arme sieletjie” kwytgeraak. Lees ook: ‘Sy is ’n seën van God,’ sê pa van ses wat weggooikind aanneem Sy sê in ’n bloginskrywing Charlie se geboortemerk is die eerste ding wat mense opmerk en waarop hulle kommentaar lewer.

“Ek probeer om myself daagliks te herinner die meeste mense is gaaf en bedoel dit goed. Ek raak nie kwaad oor mense wat kortliks na haar staar nie. Ek verstaan dis in die mens se aard om twee keer te kyk as jy iets sien aan iemand anders wat hulle anders maak.” Maar Katie wil hê mense moet begryp haar dogter is meer as net die merk op haar gesig.

“Ons hoef nie daaroor te praat elke keer as jy na haar kyk nie. Ons kyk verby die kleur van haar gesig. Charlie is Charlie en dis deel van wie sy is. Daar hoef nie gedurig kommentaar of kritiek gelewer of bevraagteken te word nie.”

Die ma skryf sy sou eerder wou praat oor Charlie se ongelooflike glimlag of hoe mooi haar groot blou oë is. “Sy het ’n dinamiese persoonlikheid,” sê sy aan HuffPost Parents.

“Almal wat haar ontmoet, sê iets oor haar deurdringende oë of dat sy lyk soos ’n ou siel wat meer verstaan as wat ons dink. Sy is uiters gemotiveerd en het reeds begin kruip en probeer staan.” Volgens MailOnline is dit onbekend wat kapillêre hemangioom veroorsaak of dit kan voorkom en kan die letsels verdwyn soos die kind ouer raak.

“Kapillêre hemangioom is dalk nie daar wees met geboorte nie, maar kan binne die eerste ses maande verskyn. Dit begin gewoonlik tussen 12 en 15 maande in grootte afneem,” berig aapos.org.

Aarbei-geboortemerke kom glo meer algemeen voor onder vroeggebore babas en meisietjies. Lees ook: Vrou nader konstitusionele hof om droom van ouerskap via surrogasie te bewaarheid Ouers word aangeraai om die merke dop te hou om te verseker dit groei nie so dat dit met visie of asemhaling inmeng nie. Katie, wat ook ’n ouer seun, Grayson (6) het, het aan HuffPost Parents gesê haar dogter het al by spesialiste gedraai en kry daagliks medikasie om te verseker die geboortemerk word nie groter of belemmer haar visie nie.

Katie sê sy is as kind afgeknou en wil Charlie teen dieselfde lot beskerm.

“Ek is as kind geboelie en daar was niks fout met my nie. Ek dink ons moet selfvertroue inboesem en hulle leer om hul eiewaarde te besef om hulle teen boelies te beskerm. Haar hele gesig is my liewe Charlie en dit maak nie saak hoe dit lyk nie.”

? Saamgestel deur Litaletu Zidepa

BRONNE: Aapos, Daily Mail, HuffPost Parents, Twelve and Six

Ander stories op Huisgenoot.com:

Drie verdagtes Vrydag in hof vir Tokai-moord

Kate en Leo klets al te graag oor en weer

Kylie Jenner pryk skielik weer met dun lippies en laat omtrent die internet kopkrap

‘Ek moes dae lank na leuens luister,’ sê regter in Zephany-saak