Dis enkele dae nadat Joanne Kroon se seun, Sean (18), buite sy studentehuis in Universitas, Bloemfontein, doodgeskiet is, maar ’n mens hoor net vrede en liefde in haar stem wanneer sy oor hom praat.

[caption id="attachment_167157" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Joanne is van Willowmore in die Oos-Kaap. Sy en haar man, Michael (57), ’n skaapboer, het 14 jaar lank vir ’n kind gewag. Hy was hul enigste.

“God leen ons kinders net aan ons vir ’n seisoen. Ons sal die 18 jaar wat ons saam met hom gehad het, vir ewig koester,” het Joanne (54) Dinsdag in ’n telefoniese onderhoud aan Huisgenoot gesê. Daarna sou sy en Michael vir Sean vir oulaas in die lykshuis gaan groet voor hulle die tog terug huis toe aanpak.

“Ons het opgesien daarna om hierheen te kom, maar nou sien ons soveel op om terug te gaan.”

Die Kroon-egpaar gaan hul seun se lewe Saterdag om drieuur tydens ’n gedenkdiens op hul plaas, Finchley, vier. Joanne vertel dit is ook op die plaas waar hy en sy pa nog groot drome en planne gehad het.

Dit is hier waar hulle sy as gaan strooi en bome gaan plant. Rouklaers is gevra om bome pleks van blomme te bring. “Ons wil Willowmore nog vol bome plant.” Sean en sy gesin het reeds die afgelope ses jaar nagenoeg 400 bome hier geplant.”

Joanne vertel hulle het sy goed in die studentehuis opgepak.

[caption id="attachment_167151" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Sean, wat verlede jaar matriek aan die Union High School in Graaff-Reinet geskryf het, was net sowat ses weke in Bloemfontein waar hy ’n eerstejaar-B.Sc.-student aan die Universiteit van die Vrystaat was. Sy ma vertel hy het ’n wye vriendekring van oor die kultuur- en kleurgrense heen gehad. Hy het baie in ingenieurswese belanggestel en dit was een van sy hoofvakke.

Sean was Saterdagaand alleen by die studentehuis toe ’n rower hom vermoedelik buite die huis oorval. Sy twee huismaats en die drie studente wat in woonstelle op die erf in Veensingel bly, was reeds weg huis toe vir die vakansie. Sean het nog vir ’n eksamen geleer wat hy Maandag sou skryf. Hy het vermoedelik buite gaan staan om te rook.

Kapt. Chaka Marope, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het bevestig die voorval het omstreeks agtuur gebeur. Die vermoede bestaan dat Sean en die rower gestoei het. Hy is twee keer in die bors geskiet. Die rower het vermoedelik die huis binnegegaan en sy skootrekenaar en selfoon gebuit.

’n Buurman het die skote gehoor en ook hoe Sean in die straat om hulp skree. Hy het sowat 50 m van die huis in die straat af aan sy wonde beswyk. Die rower het weggekom.

Volgens Chaka was dit die vierde soortgelyke voorval in die gebied waar ’n studentehuis vermoedelik deur dieselfde rower geteiken is. “Ons is besig om alles in die stryd te werp om die verdagte op te spoor.”

“Dit is nie maklik nie; dit is seker een van die aakligste paaie wat ’n ouer kan stap,” sê Joanne. “Ons is nog in limbo. Ek dink nie dit het al werklik ingesink nie.”

Joanne vertel dit was Sean se droom om te boer en in die buitelug te wees. “Hy was ’n omgewingsbewaarder. Hy wou damme en paaie bou,” vertel sy.

Steeds is sy blymoedig. Die ma hou vas aan die wete dat haar seun geweet het hy was gelief en dat sy ouers elke dag van hul lewe daar was vir hom. Sy vertel hulle het 14 jaar lank gesukkel om swanger te raak, maar drie maande voor Sean se geboorte het ’n buitelander in hul kerk vir hulle gebid en ’n seën oor hulle uitgespreek dat hulle ’n kind sal hê.

“Sean was vir ons ’n geskenk van God.” Sy vertel hulle het oor die jare gehaltetyd saam met hom deurgebring. “Hy het geweet ons sal ses uur lank ry om daar te wees wanneer hy die 400 m gaan hardloop of om langs die rugby- of krieketveld te wees. Sean het sy lewe voluit geleef. Hy het elke dag geleef asof dit sy laaste is. Hy was ’n Jack-in-the-box-soort-mens. Bitter min het hom ondergekry.”

[caption id="attachment_167154" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

Sy vertel nie ’n dag het verbygegaan dat hulle nie met hom het gepraat en vir hom gesê het hulle is lief vir hom nie. “Daar is geen berou oor enigiets nie. Sean het nie geweet hoe dit voel om nie liefgehê te wees nie. Hy het nie geweet hoe dit voel om nie albei ouers onder een dak te hê nie. Ons het mekaar nooit gedruk wanneer ons mekaar gesien het nie. Ons het elke liewe dag wat ons met hom gepraat het vir hom gesê ons is lief vir hom en ons mis hom. Ook die dag van sy dood.”

Joanne vertel sy is nie kwaad vir die mens wat die hartseer veroorsaak het nie. “Ek dink regtig nie hy het beplan om soveel pyn te berokken nie. Hy wou ’n skootrekenaar hê. Ek dink nie dit het deur sy gedagtes gegaan hoeveel pyn hy ons familie, Suid-Afrika, die universiteit of Sean se vriende sou berokken nie.

“Wat my hartseer maak, is hoe goedkoop ’n lewe vandag is. In die verlede het kinders op die grens gesterf, nou sterf hulle in hul eie agterplaas aan die hand van misdadigers. Ons is nie veronderstel om gevangenes by ons eie huis te wees nie.”