’n Ma van vier is doodgeskiet in ’n oënskynlike padwoede-aanval terwyl sy haar tienerdogter leer bestuur het.

Tammy Meyers (44) is buite haar huis in Las Vegas in die kop geskiet en is dood nadat sy Saterdagaand ontkoppel is van die masjiene wat haar aan die lewe gehou het.

Die polisie soek nog na die skieter.

Die verpleegster van Kalifornië het haar 14-jarige dogter op ’n parkeerterrein by ’n skool ’n ryles gegee en was besig om huis toe te bestuur toe sy amper teen ’n ander voertuig vasry, het die polisie aan die New York Post gesê.

Ná ’n woordewisseling het Tamy huis toe gery en haar volwasse seun se hulp gevra terwyl haar dogter die huis binnegegaan het.

Die verdagte voertuig het toe met drie insittendes buite die huis verskyn. Een van hulle het talle skote geskiet, waarvan een Tammy getref het.

Haar man, Robert Meyers, het gesê hul volwasse seun het uit die huis gekom en talle skote met ’n handwapen op die motor geskiet terwyl dit weggejaag het.

Robert het aan die Post gesê hy meen minstens een 9 mm-koeël wat sy 23-jarige seun afgevuur het, het die motor getref, en gevra die betrokkenes moet hulle aan die polisie oorgee.

Bronne: CBS News, New York Post, News.com.au